“Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind” (Johannes 10:9).
Ons is besig om te kyk na die ‘Ek is…’-uitsprake van Jesus in die Evangelie volgens Johannes.
Ons het gesels oor Jesus as die Brood van die lewe. Dan het ons ook gekyk na Jesus as die Lig van die wêreld.
Vandag gaan ons kyk na Jesus, die Deur.
DIE DEUR AS DEEL VAN DIE PASGA.
Die Pasga, of Paasfees, in die Ou Testament, is ‘n heenwysing na Jesus.
As ‘n mens God se voorskrifte vir die Pasga lees, sien jy Jesus só duidelik as die deur in een van die dinge wat die Israeliete moes doen tydens die eerste Pasga in Egipte.
In Eksodus 12 lees ons dat hulle die bloed van die lammers aan die sykante en aan die bokant van die deurkosyne van hulle huise moes smeer.
Die bloed het gedien as teken vir die mense. Die vernietiger, wat al die eersgeborenes in Egipte doodgemaak het, het die huise met die bloed oorgeslaan. Daar is niemand in een van daardie huise dood nie.
JESUS IS DIE DEUR.
Jesus is die deur waardeur ons moet gaan om gered te word.
Soos die bloed gedien het as teken vir die mense, dien Sy bloed ook as teken vir ons.
Ons is oordek met en word beskerm deur Sy bloed.
Die Nuwe Verbond is beseël deur die bloed van Jesus (Lukas 22:20).
Wanneer God nou na ons kyk, sien Hy nie meer ons sondes en ongeregtighede nie. Hy sien net die geregtigheid van Jesus (2 Korinthiërs 5:21).
Daar gaan ‘n tyd kom wat God die mense gaan oordeel. Dié van ons wat in Jesus geglo het, gaan in ‘n sekere sin ‘oorgeslaan’ word omdat ons aanvaar het wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het.
BLY BINNE, MOENIE UITGAAN NIE!
In Eksodus 12:22 lees ons dat God die Isaeliete beveel het om daardie nag binne hulle huise te bly. Niemand mag by die deur uitgegaan het tot die volgende oggend nie.
Ook hier word ons aan Jesus herinner.
In Johannes 15:4 staan daar: “Bly in My, soos Ek in julle.”
Net soos die Israeliete in hulle huise moes bly, moet ons ook in Jesus bly.
Daar is egter ‘n verskil.
Die Israeliete moes binne bly, anders sou hulle ook doodgaan.
Ons verloor nie ons verlossing as ons besluit om ‘buite’ Jesus te gaan nie.
Ons verloor wel die vermoë om vrug te dra.
Jy sien, ons kan nie op ons eie, sonder Jesus, vrug dra nie.
Ons moet in Hom bly om dit te kan doen.
Die tweede gedeelte van Johannes 15:4 sê: “Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.”
En dan sê vers 5: “Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.”
HET JY AL INGEGAAN?
Ek wil hierdie artikel afsluit deur jou ‘n ‘n paar vrae te vra.
Het jy al deur die Deur gegaan?
En, as jy klaar binne is, bly jy binne?
Of sluip jy soms na buite en probeer op jou eie vrug dra?
Gaan in deur die Jesus, die Deur.
Dit is die enigste manier om gered te word.
En as jy eers in Hom is, bly dan in Hom. Dit is die enigste manier om vrug te dra.