DIE HART – WAT DIE BYBEL DAAROOR Sê

In Vrydag se Verse Vrydag artikel, het ek vir jou vertel dat die Here die laaste tyd elke nou en dan ‘n vers oor die hart op my pad gebring het.

Toe het ek ‘n paar van die verse met jou gedeel.

Vandag gaan ons in meer diepte kyk na van die verse oor die hart.

LEES OOK: 23 BELANGRIKE VERSE OOR DIE HART

Wat die Bybel sê oor die Hart

GOD KYK DIEPER AS MENSE.

Een van die belangrikste dinge wat ons moet onthou, is dat God dieper kyk as mense.

Ons sien net raak wat op die oppervlak is.

En wat ons sien is ook nie noodwendig die waarheid nie.

In 1 Samuel 16:7 lees ons: “Maar Hy sê vir Samuel: ‘Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.'”

In die Ou Afrikaanse Vertaling staan: “Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”

God kyk na die hart.

Hy sien hoe ons regtig is, nie wie en wat ons voorgee om te wees nie.

DIE TOESTAND VAN DIE HART.

Wanneer God ‘n ongelowige se hart kyk, sien Hy niks goeds nie.

Deur die profeet Jeremia vertel Hy vir ons hoe die hart van die ongebore mens is: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” (Jeremia 17:9).

En Jesus sê die volgende: “…wat van binne af uit ‘n mens kom, dít maak ‘n mens onrein. Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ‘n mens onrein” (Markus 7:20-23).

‘n Mens se woorde en dade is maar net ‘n uitdrukking van wat in die eerste plek in die hart aangaan.

‘N NUWE HART.

Jeremia het gesê die hart is ongeneeslik.

Soos die Afrikaanse uitdrukking lui, daar is geen salf aan te smeer nie.

Daarom moes God ‘n wonderwerk doen.

Hy kon nie net die ou hart vat en dit skaaf en skuur om dit beter te maak nie.

Nee, ‘n nuwe hart was nodig.

Wanneer ‘n mens Jesus in geloof aanneem, is dit presies wat God doen – Hy gee jou ‘n nuwe hart.

Ons lees daarvan in Esegiël 36:26: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.”

DIE HART VAN ‘N GELOWIGE.

Hierdie nuwe hart is gevul met God se liefde.

Romeine 5:5 sê dit duidelik vir ons: “…en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Omdat ons ‘n nuwe hart het, kan ons doen wat ons lees in Hebreërs 10:21-22: “En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”

PAS JOU HART OP.

Dit is tog ook interessant dat ons gemaan word om ons harte te bewaar.

In drie van die Evangelies lees ons die gelykenis van die saaier.

Ons sien dat die Woord vrug dra wanneer dit in goeie grond gesaai word. Dit gebeur wanneer iemand die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra (Lukas 8:15).

Die ander harte waarvan Jesus praat, dra nie vrug nie.

Hoekom?

Sommige gee moed op wanneer hulle geloof op die proef gestel word.

Ander laat toe dat die sorge, rykdom en genietinge van die lewe die Woord verstik.

Selfs ‘n kind van God moet dus versigtig wees en sy hart bewaar.

Spreuke 4:23 sê: Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

God het in Sy groot genade en liefde vir Sy kinders nuwe harte gegee.

Nou kan ons die goeie voortbring en ander sal Hom verheerlik wanneer hulle dit sien!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *