‘n Mens se hart is jou grootste probleem Maar God gee jou ‘n nuwe hart wanneer jy Jesus in geloof as Verlosser aanneem.
Telkens in die Ou Testament, lees ons dat die Israeliete van God af weggedwaal het. Hulle het stadig maar seker al hoe meer begin om ander gode aan te hang en te dien.
Elke keer stuur God iemand, soos ‘n profeet, om met hulle hieroor te praat en hulle aan te moedig om terug te kom na Hom toe. Hy waarsku ook elke keer dat Hy hulle gaan straf as hulle nie gehoor gee nie.
En keer op keer ignoreer hulle Sy waarskuwings. Partykeer het God hulle letterlik jare lank gewaarsku voor Hy op die ou end gedoen het waarteen Hy hulle gewaarsku het. In die boek van Rigters sien ons dit baie duidelik.
Oor en oor waarsku die Here dat Hy hulle gaan oorgee in die mag van een van die naburige volke omdat hulle van Hom weggedraai het. Hulle luister nie, en dan kom ‘n volk soos die Filistyne of die Midianiete en onderdruk hulle tot hulle die dag na God roep om hulp.
Dan stuur Hy een van die Rigters – Gideon, Debora, Barak, Jefta en Simson, om maar ‘n paar te noem – en God gebruik die Rigter om die volk uit die hand van die vyand te verlos.
Vir ‘n paar jaar gaan dit goed, maar dan dwaal die mense weer en die hele siklus begin van voor af.
NET UITERLIK, NIE INNERLIK NIE.
Het jy al gewonder waarom hierdie mense nie getrou kon bly aan die Here nie?
Een van die vernaamste redes was dat hulle net ‘n uiterlike verandering ondergaan het, wanneer hulle teruggedraai het na die Here toe.
Na die Here hulle uit die hand van die vyand verlos het, het hulle weer begin om God te dien, offers te bring, die Wet te onderhou, ensovoorts.
Maar hierdie was net uiterlik. Daar het geen hartsverandering plaasgevind nie. Dit het beteken dat hulle keer op keer weer die spoor byster geraak het.

DIE TOESTAND VAN DIE HART.
In Jeremia 17:9 staan daar: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?”
Die toestand van die mens se hart is ons grootste probleem.
Dit is in die hart waar sonde bedink word. Lees maar net wat Jesus sê in Mattheus 15:18-19: “Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.”
‘n Mens doen nie sommer iets sonder om eers daaroor te dink nie. Wees nou maar eerlik, elke keer wat jy sonde doen, het dit in jou gedagtes begin voor dit in dade oorgegaan het.
Net soos die Israeliete van die Ou Testament, is elke mens wat nog nie weergebore is nie, se hart steeds vol gedagtes wat lei tot sonde. So ‘n mens se hart is presies soos Jeremia daarvan praat: bedrieglik en ongeneeslik.
En dit maak nie saak wat jy doen om te verander nie, die verandering hou nie lank nie omdat jou hart nie verander het nie.
Gelukkig hoef dit nie so te wees nie.
In Jesus Christus het God vir ons die oplossing gegee.
‘N NUWE HART.
In Esegiël 36:26 lees ons die volgende belofte: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.”
En in Jeremia 14:7 in die Ou Vertaling staan daar: “En Ek sal hulle ‘n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.”
God belowe om vir die mens ‘n nuwe hart en gees te gee.
Hy belowe om vir die mens ‘n hart te gee wat Hom graag wil ken en in ‘n verhouding met Hom wil staan.
Dít gebeur wanneer ‘n persoon vir Jesus ontmoet en Hom in geloof as Verlosser aanneem.
Die Heilige Gees kom doen dan ‘n werk in so ‘n mens, en hy word weergebore.
Nou is hy ‘n nuwe mens. Daar het ‘n hartsverandering plaasgevind – ‘n geesverandering.
Hy is nou nie meer dieselfde ou, sondige mens nie. Nee, God het hom ‘n nuwe hart en gees gegee. volgens die Bybel is hy nou dood vir sonde en lewe hy vir God (Romeine 6:11).
WAT BINNE IS MOET UITKOM NA BUITE.
Hierdie hartsverandering moet nou uitgeleef word na buite.
In Filippense 2:12-13 staan: “My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
In van die Engelse vertalings staan daar: “…continue to work out your salvation with fear and trembling…” En in die New Living Translation is vers 12 só vertaal: “Work hard to show the results of your salvation, obeying God with deep reverence and fear.”
Die laaste aanhaling sê dit vir my die mooiste.
Dit beteken eenvoudig dat ‘n mens nou saam met God werk om dít wat Hy in jou binnekant gedoen het, na buite uit te leef.
GEES, SIEL EN LIGGAAM.
‘n Mens is ‘n gees, het ‘n siel, en woon in ‘n liggaam.
Jou gees is wie jy is, jou innerlike mens.
Jou siel bestaan uit jou gedagtes, jou wil, jou emosies en jou persoonlikheid.
Dié twee dele – gees en siel – vorm jou hart.
Wanneer ‘n mens weergebore word, gee God jou ‘n nuwe gees.
Ongelukkig bly jou gedagtes onveranders. Maar ook hiervoor het God ‘n oplossing.
NUWE DENKE, NUWE DADE.
In Romeine 12:2 lees ons: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
En in Efesiërs 4:22-24 staan daar: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.”
Soos ons reeds gesê het, dink ‘n mens eers oor iets voor dit in dade oorgaan.
Nadat God die mens ‘n nuwe gees by wedergeboorte gegee het, moet ons gedagtes vernuwe word, sodat ons dade kan verander.
God verander ons gedagtes deur Sy Woord.
In Johannes 17 lees ons Jesus se gebed vir Sy volgelinge, wat ons insluit. In vers 17 in die Ou Vertaling staan daar: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.”
Wanneer ons tyd in die Woord spandeer, begin ons anders dink. God verander ons denke deur die Woord sodat ons soos Hy begin dink. En wanneer ons soos Hy dink, begin ons soos Hy optree.
Die Heilige Gees gebruik die Woord om ons te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. In 2 Korinthiërs 3:18 lees ons: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
VOLG GOD SE VOORBEELD.
God wil hê dat Sy kinders soos Hy moet wees. Hulle moet dink soos Hy dink, praat soos Hy praat, en optree soos Hy optree.
Hy wil hê Sy kinders moet Sy voorbeeld volg. Ons lees dit in Efesiërs 5:1-2: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.”
Wanneer ons soos God dink, praat en optree, wys ons vir ander, wat Hom nog nie ken nie, hoe Hy is.
Mense kan nie vir God binne jou sien as jy nie wat Hy in jou gedoen het, laat uitkom na buite nie.
In die Woord leer ons wie God is. Daar deel Hy met ons Sy karakter en Sy manier van doen.
Noudat die mens ‘n nuwe hart het, is hy in staat om met die hulp van die Heilige Gees, God se voorbeeld te volg.
Dit word heiligmaking genoem, en is ‘n lewenslange proses.
HERE, WYS MY MY FOUTE.
In Psalm 19:13 staan daar: “Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.”
Die New Living Translation stel dit só: “How can I know all the sins lurking in my heart? Cleanse me from these hidden faults.”
Dít is ‘n gebed wat elke gelowige gereeld moet bid. Ons moet erken dat ons steeds nie ons eie sondes gaan raaksien sonder God se hulp nie. Ons moet Hom vra om ons daagliks te help om van die sonde, wat nog deel is van ons lewens, ontslae te raak.
In 2 Timotheus 3:16-17 lees ons: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
God gebruik dus Sy Woord om ons te leer wat die waarheid is.
Hy gebruik dit ook om dwaling te bestry.
En dan gebruik Hy dit om verkeerdhede regte stel en die regte lewenswyse by ons te kweek.
Dit beteken Hy gebruik die Woord om ons te wys waar ons nog die verkeerde ding doen (sonde), en om ons te wys wat die regte ding is om te doen.
PAS JOU HART OP.
In Spreuke 4:23 (OAV) lees ons die volgende instruksie: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”
Dit is ons verantwoordelikheid om ons harte op te pas. Ons moet versigtig wees wat ons daarin toelaat.
In die gelykenis van die saaier, leer ons dat die Woord van God soos saad is wat in ‘n hart gesaai word.
Maar die Woord is nie die enigste saad wat gesaai kan word nie.
Elke ding wat ons sien en hoor is saad wat ons in ons harte saai.
En juis daarom moet ons so versigtig wees met die dinge waarna ons kyk en wat ons hoor.
LEES OOK: 23 BELANGRIKE VERSE OOR DIE HART
TER OPSOMMING.
‘n Mens se hart is die groot probleem, want dit is hier waar sonde sy ontstaan het.
Wanneer ‘n mens Jesus as Verlosser aanneem, gee God jou ‘n nuwe hart – Hy gee jou ‘n nuwe gees.
Dit wat in jou innerlike plaasgevind het, moet die res van jou lewe uitgewerk word na buite, sodat dit gesien kan word.
Vernuwe jou denke deur die Woord en jou dade en woorde sal ook verander.
Laat God toe om jou te wys waar jy nog dinge verkeerd doen. Volg dan Sy voorbeeld en doen, met die hulp van die Heilige Gees, die regte ding.
Pas jou hart op. Wees versigtig met die dinge wat jy toelaat om by jou oë en ore in te kom, want dit is soos saad in jou hart wat op een of ander stadium ‘n oes gaan lewer.