GEHOORSAAMHEID AAN GOD – WAT IS JOU MOTIEF?

In Johannes 14 gee Jesus vir ons die motief wat ons moet hê vir ons gehoorsaamheid aan Hom – liefde.

Gehoorsaamheid aan God - wat is jou motief?

Ons het verlede week begin met ‘n reeks oor die woorde van Jesus net voor Hy aan die kruis gesterf het.

‘n Persoon se laaste woorde is iets wat familielede vir jare bybly, en soms is dit woorde wat van groot belang is.

Jesus se laaste woorde aan Sy dissipels is deur Johannes vir ons in sy evangelie opgeteken. Dit was woorde wat krag dra, woorde wat bemoedig, woorde wat hulle, en ons, vul met wysheid.

AS JULLE MY LIEFHET.

In Johannes 14 lees ons meer as een keer dat diegene wat Jesus liefhet, Hom gehoorsaam.

In vers 15 staan: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.”

Vers 21 sê: “Wie My opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet.”

En in verse 23-24 lees ons: “Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.'”

Jesus verwag nie net gehoorsaamheid, einde van die storie nie.

Nee, Hy kyk, soos met soveel ander dinge in die lewe, na die motief agter die gehoorsaamheid.

Hy kyk na die hart.

DIE PERFEKTE VOORBEELD.

Soos ons in Johannes 14 sien, is die motief vir ons gehoorsaamheid, die motief waarin Jesus belangstel, ons liefde vir Hom.

Hy is dan ook vir ons die perfekte voorbeeld van gehoorsaamheid wat uit liefde gebore is.

Omdat Hy die Vader liefhet, het Hy die opdragte uitgevoer wat die Vader Hom gegee het. En omdat Hy óns liefhet, het Hy in gehoorsaamheid aan die Vader Sy lewe afgelê en vir ons sondes aan die kruis gesterf.

WAT IS JOU MOTIEF?

Elke dag het ons geleentheid op geleentheid om die keuse te maak om aan God gehoorsaam te wees.

Maar wat is die motief vir ons gehoorsaamheid?

Is ons gehoorsaam omdat ons God probeer beïndruk? Of omdat ons voel ons móét gehoorsaam wees om Sy liefde en genade te verdien? Of dalk omdat ons dink as ons gehoorsaam is, skuld God ons iets en sal Hy vinniger ons gebede beantwoord?

Nie een van daardie redes is ‘n goeie motief vir gehoorsaamheid aan God nie.

Om die waarheid te sê, die enigste goeie rede vir gehoorsaamheid aan God word deur Jesus Self in bogenoemde verse gegee.

“As julle My liefhet….”

Ons liefde vir God is die enigste motief wat ons moet hê vir gehoorsaamheid aan God.

SEëN OP GEHOORSAAMHEID.

Ja, daar is verseker seën wat vloei uit gehoorsaamheid.

Dink maar aan wat Jesus in Mattheus 7:24-25 gesê het: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”

‘n Mens bou jou lewe op die Rots wanneer jy die Woord hoor en wat jy hoor, toepas in jou lewe. En jou lewe val dan nie uitmekaar as die duiwel en sy trawante al wat ‘n storm is jou kant toe stuur nie.

Ons kan dus goeie gevolge verwag wanneer ons gehoorsaam is aan die Woord. Maar ons gehoorsaamheid moet altyd spruit uit die liefde wat ons vir God het.

LIEFDE AS MOTIEF.

God het jou só liefgehad, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat jy, omdat jy in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Hy het Sy beste vir jou gegee omdat Hy jou liefhet.

Gee jy jóu beste vir Hom deur jouself aan Hom as lewende en heilige offer te gee, en in gehoorsaamheid aan Hom te lewe?

Jy het vandag die geleentheid om Hom in gehoorsaamheid te volg.

Wat gaan jy daarmee doen?

2 thoughts on “GEHOORSAAMHEID AAN GOD – WAT IS JOU MOTIEF?

  1. Francois Bruwer

    Hallo Risa
    Sukkel tans om die verskillende gelowe te verstaan -maw elkeen het die ware oplossing !!
    Erkende teoloê is nou oortuig dat daar geen God is nie.
    Ge hoor en saam is die antwoord – sal hulp baie waardeer.
    Mooi bly
    Frans

    • Risa Cronje

      Hallo Frans. Ek gaan bietjie dink oor dit wat jy skryf en kyk hoe ek ‘n artikel daaroor kan skryf om ‘n antwoord te gee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *