DIE WEDLOOP VAN DIE LEWE.

Jou lewenswedloop is deur God vir jou uitgelê. Hou jou oë op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof, en jy sal die wedloop suksesvol voltooi.

Iemand vertel nou die dag van die eerste 5km wedloop waaraan sy deelgeneem het. Soos dit maar met sulke dinge gaan, was daar natuurlik ‘n hele klomp mense wat die wedloop aangedurf het.

Met die wegspring het alles goed gegaan, en sy is so half deur die momentum van die klomp hardlopers vorentoe gedra.

Maar toe begin hulle uitdun, en skielik besef sy dat sy besig is om agter te raak.

Al hoe meer hardlopers het by haar verbygekom, en sy het naderhand begin benoud raak dat sy regtig heel laaste gaan wees.

Toe onthou sy wat haar afrigter vir hulle gesê het: “Sit jou oogklappe aan. Ander hardlopers gaan vinniger wees, maar moenie dat dit jou hinder of jou ontmoedig nie. Sit jou oogklappe aan en hardloop na die beste van jou vermoë.”

Sy het die afrigter se raad gevolg en haar wedloop voltooi en is tans weer besig om te oefen vir ‘n volgende een.

DIE WEDLOOP VAN DIE LEWE.

Ons is elkeen besig met ons eie lewenswedloop.

Die roete van jou wedloop is deur God uitgelê en dit lyk nie dieselfde as die hardloper langs jou s’n nie.

Niemand anders kan jou wedloop hardloop nie, en jy kan ook nie iemand anders s’n hardloop nie.

Ongelukkig probeer ons soms om iemand anders se wedloop te hardloop, maar ons kom gou agter dat dit nie so ‘n goeie idee is nie. En, as ons slim is, kom ons dadelik weer in ons eie baan en hardloop die wedloop wat God vir ons bepaal het.

JESUS, DIE PASAANGEER.

Elke persoon se wedloop se pas verskil.

Sommige mense vorder baie vinnig terwyl ander weer bietjie stadiger is.

Moet jou egter nie bekommer as jy sien van die ander hardlopers rondom jou is besig om vir jou weg te hardloop nie.

Want sien, jy het Iemand wat voor jou hardloop en wat die pas waarteen jy moet hardloop, aangee.

Jy het seker al op TV gesien dat daar soms met die middel- en langafstand wedlope ‘n persoon is wat voor hardloop, wat die pas aangee. Hierdie hardloper se doel is om te verseker dat daar aan die begin van die wedloop teen ‘n vinnige pas gehardloop word.

Jesus is voor jou nie net om die pas waarteen jy jou wedloop hardloop aan te gee nie, maar ook om die roete vir jou aan te dui.

Dit is belangrik om Hom heeltyd in die oog te hou. Moenie by Hom verbygaan nie, want dan gaan jy nie weet wattter roete om te vat nie en jy gaan ook nie weet teen watter pas jy moet hardloop nie.

Moet ook nie te ver agterraak nie, want dan gaan dieselfde gebeur.

Bly naby Hom. Doen wat Hy vir jou sê om te doen. Doen dit wanneer Hy vir jou sê om dit te doen. En jy sal jou wedloop voltooi presies soos God dit vir jou beplan het.

RAAK ONTSLAE VAN HINDERNISSE.

Dit gebeur soms dat jy agterkom jou wedloop het nou skielik in ‘n hindernisbaan ontaard. Oral is daar dinge in jou pad wat jou verhinder om jou wedloop te hardloop.

Hierdie hindernisse kan selfs veroorsaak dat jy jou Pasaangeer uit die oog verloor.

Moet dit nie maar net aanvaar en probeer om die hindernisse te ontduik nie.

Raak ontslae van hulle!

In Hebreërs 12:1 lees ons dat ons “elke las van ons [moet] afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik.”

As jy besef jy het nou weer met ‘n hindernis te doen, praat met jou Pasaangeer en vind uit wat jy moet doen om daarvan ontslae te raak. Hy weet en sal vir jou die beste raad gee.

Hy sal jou help, en as jy saam met Hom werk, sal jy beslis daarvan ontslae raak.

HOU BY DIE REëLS.

Elke wedloop het reëls.

As deelnemer onderneem jy om by die reëls te hou. Ons lees dan ook daarvan in 2 Timotheus 2:5: “‘n Atleet wat aan ‘n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding.”

Die lewenswedloop het ook reëls, en jy gaan slegs die prys behaal as jy die reëls gehoorsaam en nie iewers kortpad kies nie.

Die reëls vir die lewenswedloop word baie duidelik vir ons in die Bybel uitgespel.

As ons gehoorsaam is aan God se instruksies, en dit wat ons uit die Woord leer in ons lewens toepas, sal ons die wedloop suksesvol voltooi en die prys behaal.

JOU EIE WEDLOOP.

Soos ons reeds gesien het, is elke mens besig met sy eie lewenswedloop.

Elkeen s’n verskil – die roete, die pas, die lengte, en die eindpunt.

Elke mens se hindernisse op die pad verskil ook.

Fokus op jou eie wedloop.

Joune het niks met ander te doen nie, en hulle s’n het niks met jou te doen nie. Soms gaan julle dalk wel paaie kruis, en vir ‘n ruk lank langs mekaar hardloop, maar dan gaan julle paaie weer skei, en gaan jy weer in ‘n baan langs iemand anders beland.

Moet jou dus nie met ander hardlopers vergelyk en ongelukkig raak wanneer jy sien dat julle nie besig is om dieselfde wedloop te hardloop nie.

Sit jou oogklappe aan!

Fokus op jou Pasaangeer voor jou.

Raak ontslae van alles wat jou verhinder om jou wedloop suksesvol te voltooi.

Hou by die reëls en doen jou bes.

En, voor jy jou oë uitvee, sal jy sien dat jy besig is om die eindpunt te nader waar die Organiseerder vir jou wag om die hemelse prys aan jou te oorhandig!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *