JESUS, DIE WYSHEID VAN GOD

Almal van ons het wysheid nodig. Jesus is God se wysheid vir ons. Hy roep ons om agter Hom aan te kom sodat Hy ons kan lei op die pad wat ons moet gaan.

Jesus, God se wysheid

Ons het almal daagliks met situasies te doen waar ons wysheid aan die dag moet lê.

Maar wat ons dink die wyse ding is om te doen, is nie noodwendig die geval nie.

Gelukkig hoef ons as kinders van God nie op ons eie wysheid staat te maak nie.

Ons kan na Hom toe gaan en vra vir wysheid, en Hy belowe om dit vir ons te gee!

“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jakobus 1:5).

Vandag wil ek ‘n paar gedagtes oor God se wysheid met jou deel.

WYSHEID IS VRYLIK BESKIKBAAR.

In Spreuke 1: 20-21 lees ons die volgende: “Wysheid is ‘n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het…”

God se wysheid is vrylik beskikbaar.

Dit is oral waar ons dit nodig het.

In die verse hierbo sien ons Sy wysheid is in die straat, in die stadsplein, in die ingange van die stadspoorte.

Sy wysheid is tot ons beskikking in die straat, in ons daaglikse handel en wandel met mense.

Dit is beskikbaar in die stadsplein, in ons werkplek en daar waar ons besigheid doen met mekaar.

Ons vind dit ook in die stadspoorte, daar waar belangrike mense met mekaar vergader en besluite neem wat ander se lewens raak.

God se wysheid is reg daar waar ons dit nodig het om ons te lei, sodat ons in die regte besluite kan neem en die regte pad kan stap. 

God steek nie Sy wysheid vir ons weg nie.

Die teendeel is waar.

In ons teksvers staan wysheid roep in die straat bo die rumoer uit.

Dit is dus ‘n hoorbare stem.

WYSHEID ROEP NA ONS.

God se wysheid roep na ons.

Dit is in werklikheid besig om te veg teen alles wat ons daarvan kan wegneem sodat dit ons aandag kan kry.

Jy sien, God se wysheid is ‘n Persoon – Jesus Christus.

In 1 Korinthiërs 1:30 staan: “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom…”

In Markus 10:17-22 lees ons die verhaal van die ryk jong man. In vers 17 lees ons: “Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop.”

Hierdie voorval het dus plaasgevind toe Jesus van een plek oppad was na ‘n ander.

Hy was in die straat.

Hierdie jong man het ‘n vraag gehad.

Hy het dit nie geweet nie, maar hy het wysheid nodig gehad, en hy kom na die Een wat vir ons geword het die wysheid wat van God kom.

Hy kom na die Wysheid van God Self.

Jesus praat met hom oor die wet en oor sy geld en besittings wat ‘n houvas op hom het, en laastens sê Hy vir hom: Volg My!

Kom agter My aan. Stap dieselfde pad as Ek.

Jesus sê vir hom watter pad hy moet stap, maar hy gaan in die teenoorgestelde rigting, want hy het nie verstaan hoeveel hierdie uitnodiging van Jesus werd was nie.

Jesus is God se wysheid wat in die straat, in die stadsplein en in die stadspoort tot ons roep.

Hy wil ons die regte pad wys, ons help om die regte besluite te neem, en ons vorentoe vat in God se plan vir ons lewens.

Hy is reg daar waar ons Hom nodig het, gereed om Sy wysheid met ons te deel.

LEES OOK: WAT IS JESUS IN JOU LEWE?

ONTVANG GOD SE WYSHEID.

Waarvoor het jy vandag wysheid nodig?

Wysheid roep na jou.

Kom na Hom toe, want Hy gee jou Sy wysheid in oorvloed en leer jou Sy woorde begryp. Wie na Hom luister, sal veilig wees en hulle hoef geen ramp te vrees nie (Spreuke 1:23;33).

“Dit is die Here wat die wysheid gee, uit Sy mond kom die kennis en die insig.” (Spreuke 2:6).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *