Baie mense hou nie daarvan wanneer ‘n predikant preek oor die gee van tiendes nie. Sommige voel dat dit deel was van die Ou Testament en van die Wet, en dat diegene wat in Jesus glo, nie nodig het om hieraan gehoorsaam te wees nie. Ander voel weer dat die kerk net hulle geld wil hê sodat die dominee ‘n groter kar kan ry.
Maar, soos met al God se ander opdragte, is die gee van ons tiende vir ons tot voordeel!
Jare voor God Israel as ‘n volk gevestig het, het die vader van ons geloof, Abraham, alreeds uit dankbaarheid vir wat God vir hom gedoen het, ‘n tiende gegee. Ons lees daarvan in Genesis 14. In vers 20b staan: “Toe het Abram vir Melgisedek [hy was die koning van Salem en priester van God die Allerhoogste] ‘n tiende van alles gegee.”
God het dit later deel van die Wet gemaak om die volk daaraan te herinner om dit getrou te doen, en in Maleagi 3 sien ons dat Hy baie ernstig is daaroor. Ons lees daar dat Hy die volk daarvan beskuldig dat hulle by Hom steel omdat hulle nie hulle tiende gee nie.
Nou dink jy dalk, “Goed, ek sien dat dit ‘n opdrag van God is, maar hoe trek ék nou eintlik voordeel daaruit?”
Jy sien, wanneer jy in gehoorsaamheid die volle tiende gee by die gemeente waar jy elke Sondag geestelik gevoed word, dan seën God die 90% wat oorbly. Jy nooi Hom basies om deel te wees van jou finansies en ook van wat jy daarmee doen.
In Maleagi 3 sien ons verder dat God die volgende belowe vir diegene wat hulle tiende getrou gee: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare” (vs.10-11, Ou Vertaling).
God belowe om die vensters van die hemel bo jou oop te maak en vir jou ‘n oorvloedige seën uit te stort. Hy belowe verder dat jou land nie onvrugbaar sal wees nie en die opbrengs van jou oes nie verwoes sal word nie.
Dit klink goed as jy ‘n boer is, maar wat van die res van ons? Vir ons beteken dit eenvoudig dat Hy sal toesien dat ons handewerk vrug dra en dat die duiwel nie die 90% wat oorbly na ons die tiende gegee het, op een of ander manier kom steel nie.
Ons besef dit nie altyd nie, maar God toets ons hart wanneer dit kom by die gee van ons tiende. As jou vriende wil weet wat die hoogste prioriteit in jou lewe is, hoef hulle net te kyk waarop jy eerste geld spandeer wanneer jy jou salaris ontvang. As die eerste geld gaan vir God en Sy Koninkryk, dan is Hy jou eerste prioriteit. As dit gaan vir iets anders…. wel, dan weet jy nou wat werklik jou eerste prioriteit is!
God moet altyd, in alles, eerste wees in ons lewens. As ons Hom iewers op die agtergrond skuif, dan skuif ons ook gewoonlik Sy opdragte en bepalings op die agtergrond. En ongehoorsaamheid aan Hom lei nooit tot seën nie. Dit veroorsaak net moeilikheid en swaarkry.
God gee ons Sy voorskrifte, opdragte en bepalings om ons te help om reg te leef. Hy is vrygewig en genadig, liefdevol en barmhartig. Hy wil deel wees van elke aspek van ons lewens, ook van ons finansies.
As ons weer na Maleagi 3 gaan kyk, dan sien ons dat vers 9 sê die volk is belaai met ‘n vloek omdat hulle versuim het om hulle tiende te gee. Dit beteken dat ons ook onder ‘n vloek is wanneer ons nie ons tiende gee nie. Dit maak die deur vir die duiwel oop om jou finansies so deurmekaar te krap dat jy nie weet hoe jy dit het nie.
Maar, as jy jou in hierdie posisie bevind, moenie in sak en as gaan sit nie. Daar ‘n manier om die hele situasie om te draai,. Ons vind dit antwoord in Maleagi 3:7 en 10: “Keer terug na My… Bring die hele tiende na die skathuis.”
Die oomblik wat jy begin om jou tiende te gee, begin dinge omdraai. Dit gaan dalk ‘n tydjie neem, maar dit gaan gebeur.
Wat ons het, kom van God. Wat doen ons met dít wat Hy ons gee? Is ons goeie rentmeesters?
Die gee van jou tiende is nie vir God se onthalwe nie, maar vir joune. Hy belowe dat, as jy gehoorsaam is aan Sy opdrag, Hy jou finansies sal seën en die duiwel uit jou finansiële sake sal hou.
Onthou, met God aan jou sy, sal 90% van jou inkomste verder strek as wat die hele 100% sal strek as Hy nie deel is van jou finansies nie!
In die lig van wat ek hier met jou gedeel het, is dit nie tyd dat jy begin om anders te dink oor die gee van die tiende nie?