Paul en Johan se pa is een van die ryk manne in die dorp. Pa sorg goed vir die twee seuns. Hy voorsien wat hulle nodig het, maar gee nie sommer voor die voet alles waarvoor hulle vra nie. Hy probeer hulle leer om dankbaar te wees vir wat hulle het en kry, en nie te aanvaar dat hulle geregtig is op enige ding wat hulle oë sien nie.
Op ‘n dag raak Paul moeg vir die idee. Hy wil hê wat hy wil hê en hy wil nie daarvoor wag nie. Sy oplossing? Verlaat die huis. Maar hy het nie geld om sy eie plek te bekostig nie, dus gaan hy maar verleë vir sy pa vra om te help.
Pa sien hier is ‘n geleentheid om Paul ‘n lewensles te leer en gee hom die geld wat hy nodig het. Hy gee ook genoeg dat Paul vir ‘n paar maande aan die lewe kan bly terwyl hy ‘n werk soek en op sy voete kom.
Sy nuwe woonplek is vir Paul een groot vreugde. Hier kan hy maak soos hy wil. Hy hoef niemand se toestemming te vra voor hy iets doen nie. Hy hoef selfs nie eers toestemming te vra om te koop wat hy graag wil hê nie!
Ongelukkig doen Paul nie vreeslik moeite om werk te soek nie. Dis heeltemal te lekker om laat te slaap in die oggend en dan tot laatnag saam met sy vriende te kuier. En hy koop alles wat sy hart begeer. Baie gou is al die geld wat sy pa hom gegee het, opgebruik. Hy kan nie meer sy blyplek bekostig nie en kan ook nie kos koop nie. En snaaks genoeg, toe sy geld op is verdwyn al sy vriende ook soos mis voor die son.
Nou is arme Paul in die sop. Hy wil nie teenoor sy pa erken dat hy al die geld op onbenullighede uitgegee het nie. Hy wil ook nie graag vir sy pa vertel dat hy nooit eens probeer het om ‘n werk te kry nie. Wat gaan sy pa van hom dink?
Die dag voor hy sy woonstel moet ontruim is Paul baie mismoedig. Hy weet nie wat van hom gaan word nie. Nie een van sy sogenaamde vriende is bereid om hom te help nie en hy wil nie regtig op straat gaan bly nie. Wat staan hom te doen?
Die hele dag lank sit hy en planne maak, maar telkens besef hy die plan gaan nie werk nie. Einde ten laaste, net voor hy van spanning en hartseer op die bank aan die slaap raak, neem hy ‘n besluit. Hy sal teruggaan na sy pa toe en hom die volle waarheid vertel. Hy sal hom vra om hom te vergewe en hom nog ‘n kans te gee. Hy het ‘n les geleer wat hy nie maklik sal vergeet nie.
Die volgende oggend staan Paul vroeg op. Hy het nie geld vir ‘n huurmotor nie, dus stap hy die paar kilometer na sy pa se werk. Sy tydsberekening is goed, want hy en sy pa kom gelyktydig by die kantoor aan.
Sy pa is baie bly om hom te sien en nooi hom om gou ‘n koffie te kom drink voor die dag se werksaamhede begin. Paul neem die uitnodiging met dankbaarheid aan. Toe die stomende bekers koffie voor hulle staan, val hy sommer dadelik met die deur in die huis. Hy vertel sy pa alles. Hy vertel hoe hy net geslaap en gekuier het en nooit probeer het om werk te soek nie. Hy vertel hoe hy die geld wat sy pa hom gegee het, uitgemors. Toe hy klaar is met sy storie, staan sy pa op. Hy neem Paul se hand en trek hom regop, omhels hom en sê, “Ek is so bly jy was eerlik met my. Ek het vermoed dat dit is wat gaan gebeur, maar ek wou jou die geleentheid gee om na jouself om te sien en te ervaar waaroor die lewe eintlik gaan. Jy is welkom om terug te kom huistoe. Ek sal jou help om ‘n werk te soek en, wanneer jy reg is, weer ‘n woonstel te kry. Jy is my seun en ek is baie lief vir jou. Dít moet jy altyd onthou!”
Alles wat Paul se pa vir hom en sy broer gedoen het, was uit liefde. Dit mag dalk nie altyd vir Paul soos liefde gelyk het nie, maar dit was tog alles liefde.
God is dieselfde. Sy motivering is altyd liefde. Dink ‘n bietjie daaroor. Hy verlos ons omdat Hy ons liefhet. Ons lees dit selfs in Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Alles wat ons uit die hand van die Here ontvang, gee Hy omdat Hy ons liefhet.
Omdat Hy ons liefhet, los Hy ons nie maar soos ons is nie, maar is heeltyd besig om ons te verander sodat ons meer en meer soos Jesus lyk.
Selfs wanneer Hy ons tugtig, doen Hy dit omdat Hy ons liefhet. Hy waarsku ons teen sonde en gee vir ons duidelike instruksies hoe ons dinge moet doen sodat ons ‘n lewe van vrede en vreugde kan leef. As ons egter Sy instruksies verontagsaam en ons eie paadjie volg, dan sit ons met die gevolge. Net soos ‘n goeie pa toelaat dat daar gevolge is wanneer sy kind ongehoorsaam is, laat die Here toe dat ons die gevolge van ons ongehoorsaamheid dra. Dit leer ons dat Hy regtig van beter weet en dat ons volgende keer dalk twee keer moet dink voor ons ons eie ding doen.
Ons is God se kinders, en daarom moet liefde ook die motivering wees vir alles wat ons doen.
In 1 Kotinthiers 13:1-3 lees ons: “Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.”
Sonder liefde as motivering, is wat ek sê en doen van min waarde.
God is liefde, en daarom is alles wat Hy doen uit ‘n hart van liefde. In Sy groot genade het Hy Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees (Romeine 5:5). Met Sy hulp is ons in staat om gemotiveer te wees deur liefde.
1 Kotinthiers 13 sê liefde moet my woorde motiveer. Wat motiveer die woorde wat jy vir ander rondom jou sê?
Dit sê ook dat ek die gawes wat die Gees my gee in liefde moet gebruik. Doen jy dit?
En wat motiveer wat jy vir ander gee – jou tyd, talent, geld, ens? Gee jy uit liefde, of omdat jy hoop om weer iets terug te ontvang?
Wat is jou motief vir wat jy sê en doen in hierdie lewe?
Onthou, as dit nie liefde is nie, is dit eintlik waardeloos.
Vra die Here om jou te help om alles wat jy sê en doen, altyd te sê en doen uit ‘n hart van liefde.