Ons het verlede week gesels oor God, en dat Sy motief vir alles wat Hy doen en sê, altyd liefde is. Ons het ook gesien dat ons Sy voorbeeld moet volg en dat ons ook deur liefde gemotiveer moet word.
In sy boek, Vyf tale van die liefde, skryf Gary Chapman dat mense liefde op verskillende maniere ervaar en bewys. Elkeen van ons het ‘n primêre liefdestaal, en as iemand liefde aan jou op jou primêre manier bewys, dan ervaar jy dat die persoon jou liefhet. As die persoon egter een van die ander tale ‘praat’, dan voel jy nie geliefd nie, selfs al is die persoon se motief en bedoeling om jou lief te hê.
Die vyf liefdestale is opbouende woorde, kwaliteit-tyd, geskenke, diensbaarheid en fisieke aanraking.
Ek is tans besig om Chapman se boek, God speaks your love language, te lees. Daarin skryf hy dat God elkeen van die liefdestale volmaak ‘praat’.
Dink maar net aan die geskenke-liefdestaal.
Johannes 3:16 vertel ons van die grootste geskenk wat God gegee het: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
God het ons, vir jóú, só lief dat Hy Sy Seun gegee het om aan die kruis vir jou sondes te sterf, sodat jy weer in ‘n verhouding met Hom kan staan.
En Hy het nie daar opgehou nie. Romeine 8:32 sê: “Hy het Sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?”
Jakobus sê ook: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie” (Jakobus 1:17).
Daar is niemand wat meer vrygewig is as God nie. Hy gee omdat Hy liefhet. As geskenke jou liefdestaal is, kyk net ‘n bietjie om jou rond, en jy sal sien hoe God jou daagliks oorlaai met geskenke van liefde.
God is ook volmaak in die taal van opbouende woorde. Sy Woord is gevul met woorde wat ons opbou; woorde wat vriendelik en geduldig is en wat jou laat besef hoe baie Hy vir jou omgee.
Woorde soos:
“Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jesaja 43:1b).
“Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe” (Jesaja 43:4).
“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in My liefde bly” (Johannes 15:9).
“Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet” (Johannes 17:22-23).
As opbouende woorde jou liefdestaal is, sal jy vind dat God byvoorbeeld vir jou ‘n bemoedigende vers in jou stiltetyd gee. Of Hy sal iemand na jou toe stuur wat vir jou presies sê wat jy nodig gehad het om te hoor.
Dit maak nie saak hoe God die opbouende woorde by jou kry nie, jy sal dit hoor as jou liefdestaal opbouende woorde is.
Dalk is kwaliteit-tyd jou primêre liefdestaal. God ‘praat’ ook hierdie taal volmaak. Vir Hom is tyd saam met jou, tyd waar dit net jy en Hy is en waar julle net op mekaar kan fokus, van uiterste belang.
God is, deur die Heilige Gees, altyd by ons: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:16-17). En Hy het belowe om ons nooit te verlaat nie: “God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie” (Hebreërs 13:5).
Maar Hy het ook belowe dat, as jy kwaliteit-tyd met Hom nodig het, Hy daar is om tyd met jou spandeer: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:8a). (Die Engels sê dit net soveel mooier: “Come close to God, and God will come close to you.”)
God is liefde, en liefde is die motief vir alles wat Hy doen en sê. Dit maak nie saak wat jou primêre liefdestaal is nie, God ‘praat’ dit volmaak. En Hy verstaan presies wat jy sê wanneer jy daardie taal teenoor Hom ‘praat’.
Ons het vandag gekyk na drie van die liefdestale. Volgende week kyk ons na die ander twee, en ook hoe die Here ons opdrag gee om al die tale teenoor ander te ‘praat’.