GOD IS BY JOU IN 2019

HTML clipboard

‘n Nuwe jaar lê voor ons. Daar gaan nuwe geleenthede wees asook nuwe uitdagings. Jy gaan sommige dinge geniet terwyl ander moeiliker gaan wees en gaan vra dat jy absoluut op die Here vertrou omdat jy nie self die probleem kan oplos nie.

Maar wat ookal hierdie jaar op jou pad vir jou voorlê, een ding moet jy weet en onthou: die Here is elke tree van die pad saam met jou.

Hy weet wat met jou gebeur, en Hy verstaan elke uitdaging beter as wat jy dink. Hy weet wat jy moet doen en ook hoe jy dit moet doen. Hy het die oplossing vir elke probleem en die antwoord op elke vraag. 

Hy is die bron van liefde en wysheid. Alle goeie gawes kom van Hom. Wat jy dus in hierdie jaar nodig het, kan jy van Hom vra en Hy sal voorsien.

Hy is die Een by Wie jy kan skuil en veilig voel. Met Hom aan jou sy hoef jy niks te vrees nie. Psalm 23:4 sê dit so mooi: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.”

Jy is veilig in God se hande. Jy kan Hom met jou lewe vertrou. Hy sal jou nooit alleen los nie en jou nooit in die steek laat nie. 

Jy kan 2019 met ‘n blye hart aandurf, want die Een wat in jou is, is groter as die duiwel en alles wat hy kan uitdink om hierdie jaar in jou rigting te gooi. 

Mag 2019 vir jou ‘n jaar wees waarin jy God op ‘n nuwe manier beleef en leer ken. Mag jy elke oomblik bewus wees van Sy teenwoordigheid en leer om Hom oomblik vir oomblik te vertrou. En mag jy aan die einde van 2019 terugkyk en sê, “Ek is nie meer die mens wat ek aan die begin van die jaar was nie. Die Here het my verander en ek is nou meer soos Jesus!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *