STILTETYD: HOE OM ‘N BYBELLEESPLAN TE GEBRUIK

Jy het verseker al agtergekom dat die Bybel ‘n dik boek is. Daar is 39 boeke in die Ou Testament en 27 in die Nuwe Testament, wat dit altesaam 66 boeke maak. ‘n Mens kan dus nogal oorweldig voel wanneer jy die Bybel oopmaak, want waar begin jy nou eintlik lees?

Jy kan natuurlik altyd by Genesis begin en by Openbaring eindig en die Bybel deurlees soos mens ‘n storieboek lees.

Maar as dit vir jou na ‘n groot taak klink, dan is ‘n Bybelleesplan iets wat jy kan probeer.

So ‘n leesplan help jou om struktuur in jou leestyd te hê. Jy weet altyd waar jy volgende moet lees en hoef nie rond te blaai om na iets te soek wat jy kan lees nie.

Noudat jy weet waarom ‘n leesplan ‘n goeie idee is, kom ons gesels oor hoe jy so ‘n leesplan kan gebruik.

Hoe om 'n Bybelleesplan te gebruik

Daar is baie verskillende Bybelleesplanne beskikbaar. Sit net iets soos ‘Bible reading plan’ in Google en jy sal sien! En juis omdat daar so baie verskillende planne is, is dit belangrik dat jy een kies wat by jou seisoen van lewe en geestelike behoefte pas. Jy kan byvoorbeeld kyk na:

Die Eenjaar Plan: Met hierdie plan lees jy die Bybel in een jaar se tyd deur.

Tematiese Leesplan: Hierdie planne fokus op ‘n spesifieke onderwerp in die Bybel, soos geloof, vergifnis, of die karakter van God.

Die Kronologiese Leesplan: Met hierdie leesplan lees jy die Bybel volgens die historiese volgorde van gebeure deur.

‘n Bybelleesplan is nogal ‘n persoonlike ding. Elke mens het ‘n ander behoefte en daarom is dit jóú keuse watter tipe leesplan jy gebruik. En, as jy iets kies en na ‘n ruk agterkom jy hou nie daarvan nie, los die plan en kies ‘n ander een. Om jou Bybel te lees moet immers lekker wees en nie soos ‘n berg voor jou lê omdat jy die verkeerde leesplan gekies het nie!

(Al die tipe leesplanne waaroor ons nou gesels het, is in die Bybel Biblioteek beskikbaar. Teken in vir ons weeklikse nuusbrief en jy kry dadelik toegang tot die Bybel Biblioteek.)

Dalk is die tipe Bybelleesplanne waaroor ons hierbo gepraat het, nie heeltemal waarna jy op soek is nie.

‘n Toepassing (app) is dalk meer in jou kraal. As dit waar is van jou, kan jy gerus na die YouVersion App kyk. Daar is verskeie leesplanne waaruit jy kan kies. Elke leesplan het ook ‘n kort oordenking wat saam met elke dag gaan, wat ook vir jou van waarde kan wees.

En as jy bang is om jou foon hiervoor te gebruik, omdat dit jou in die versoeking kan lei om eerder jou tyd op sosiale media as in die Bybel te spandeer, dan kan jy altyd ‘n oordenkingsboek gebruik. Dié tipe boeke werk net soos die leesplanne op die YouVersion App. Elke dag is daar ‘n skrifgedeelte wat jy lees en dan ook ‘n kort oordenking wat jou meer oor daardie gedeelte leer. Daar is ‘n hele paar oordenkingsboeke in ons aanlyn-winkel beskikbaar, so maak gerus daar ‘n draai.

Dit maak nie saak watter tipe leesplan jy gebruik nie, om ‘n joernaal van dit wat jy lees te hou, is altyd ‘n goeie idee. Wat skryf jy in so ‘n joernaal?

Jy kan verse wat vir jou uitstaan, neerskryf.

As jy ‘n oordenking oor die gedeelte lees, en iets wat die skrywer sê staan uit, skryf dit neer.

Jy kan ook vrae wat jy oor die teks het, waaraan jy later wil aandag gee, neerskryf.

En natuurlik kan jy neerskryf hoe jy dit wat jy vir die dag geleer het, in jou lewe gaan toepas.

So ‘n joernaal is handig omdat jy later kan teruggaan en sien hoe jou geestelike groei ontwikkel het oor tyd. Dit maak ook jou Bybeltyd meer interaktief en betekenisvol.

Daar is voorheen gesê dat dit ‘n mens 21 dae vat om ‘n nuwe gewoonte aan te leer. Maar dis blykbaar nie heeltemal waar nie. Dit vat glo eerder tussen 66 en 254 dae vir die gemiddelde persoon om ‘n nuwe gewoonte aan te leer.

As jy nog nooit voorheen regtig elke dag jou Bybel gelees het nie, kan die lang tyd wat ‘n nuwe gewoonte vat jou nogal moedeloos maak.

Een manier hoe jy dit vir jouself makliker kan maak, is om jou Bybelleesgewoonte aan iets wat jy klaar elke dag doen, te koppel.

Drink jy elke oggend koffie voor jy gaan werk? Sit dan jou Bybel sommer by die ketel neer en lees jou gedeelte vir die dag terwyl jy koffie drink.

Ontspan jy in die aand voor slaaptyd met ‘n boek? Lees eers jou Bybel voor jy jou storieboek optel.

Jy kan ook jou gewoonte aan ‘n spesifieke tyd van die dag koppel. Wat ookal vir jou gaan werk, is wat jy moet kies om te doen.

Om ‘n Bybelleesplan te gebruik, help jou om gereeld tyd in die Woord te spandeer en om ‘n bietjie struktuur in jou leestyd te hê. Dit hoef nie ingewikkeld of oorweldigend te wees nie – kies eenvoudig ‘n plan wat vir jou werk en kies vir jou ‘n tyd wanneer jy jou Bybel gaan lees.

Wat belangrik is, is nie hoe vinnig jy deur die Bybel lees nie, maar dat jy God se Woord inneem, daaroor nadink, en dit wat jy leer dan in jou lewe toepas. So, kies vir jou ‘n leesplan, wees getrou om dit elke dag te gebruik, en jy sal met tyd sien hoe jou verhouding met God verdiep.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *