Ons is besig met ‘n reeks oor die geestelike dissipline van vas en gebed. Ons het al gesels oor vas en gebed in die algemeen en ook oor hoe jy ‘n 21-dae vas prakties kan beplan. Vandag gaan ons gesels oor nog ‘n paar praktiese wenke vir jou vastyd. Ons gaan ook in kort kyk na die Daniëlsvas, as dit iets is wat jy sou wou probeer.
BEGIN MET GEBED.
Ek het in ‘n vorige artikel geskryf dat vas en gebed hand aan hand loop. Begin dus jou beplanning vir jou vastyd met gebed.
Praat met die Here oor die rede waarom jy wil vas en wat jy daardeur wil bereik. Plaas jouself, en jou vastyd, in Sy hande.
BEPLAN.
Sit ‘n tydjie opsy en beplan jou vas.
JOU WAAROM.
Besluit waarom jy wil vas. Dit kan dinge wees soos:
- om stil te word by die Here en leiding te kry oor ‘n besluit wat jy moet neem.
- om die houvas wat ‘n gewoonte of sonde op jou het, te breek.
- om in God se Teenwoordigheid te wees sodat Hy jou kan versterk en bemoedig wanneer jy deur ‘n moeilike tyd gaan.
- om God se aangesig te soek oor iets nuuts waarmee Hy besig is in jou lewe.
Hierdie is net ‘n paar voorbeelde van redes waarom jy dalk kan besluit om te vas. Jou rede hoef nie een van die hierbo te wees nie, maar maak seker jy weet waarom jy vas.
WANNEER.
Besluit ook wanneer jy met jou vas gaan begin en hoe lank jy gaan aanhou.
Jou vas kan net een maaltyd wees. Dit kan ‘n hele dag se maaltye wees. Dit kan ook ‘n hele week s’n wees. En dan is daar natuurlik die 21-dae vas, wat baie mense aan die begin van die jaar doen.
As jy beplan om vir ‘n langer tyd te vas, maak seker daar is nie enige afsprake op jou kalendar wat met jou vastyd gaan inmeng nie.
Probeer om ‘n tydperiode te kies wanneer daar nie allerhande dinge is wat jy moet doen, wat jou aandag gaan aftrek nie.
HOE GAAN JY VAS?
Jou volgende stap is om te besluit hoe jy gaan vas.
Gaan jy glad nie eet nie, of gaan jy die Daniëlsvas gebruik?
As jy nog nooit gevas het nie, of vir ‘n lang periode wil vas, of as jy ‘n gesondheidsprobleem het, is die Daniëlsvas ‘n goeie idee. Met hierdie vas sny jy sekere kosse uit, maar jy bly nie heeltemal sonder kos nie. Ons gaan netnou ‘n bietjie meer oor hierdie vas gesels.
BEPLAN JOU DAG.
Jy het seker ook al agtergekom dat ‘n mens afsprake wat jy in jou dagboek neerskryf, nakom. En as jy iets op jou ‘doen-lysie’ vir die dag het, is die kans ook goed dat jy dit gaan afhandel.
Maar dit wat jy nie neerskryf en voor beplan nie, kom jy nie by uit nie.
Maak dus ‘n punt daarvan om jou vasdae te beplan.
Gaan jy vroeg opstaan en tyd saam met die Here in gebed spandeer? Of gaan jy tydens jou etensuur tyd met God spandeer? Dalk is tyd in die aand, na die gesin gaan slaap het, vir jou ‘n beter opsie.
Besluit vooraf hoe jy jou vastyd gaan hanteer en skryf dit in jou dagboek neer. Dis ‘n afspraak met God. Hanteer dit soos enige ander afspraak wat jy in jou dagboek neerskryf.
BEPLAN JOU MAALTYE.
As jy die Daniëlsvas gaan gebruik, is dit ‘n goeie idee om voor die tyd ‘n maaltydplan uit te werk.
Kry ‘n paar maklike resepte wat jy sommer in grootmaat kan voorberei. Vries individuele porsies, sodat jy net ‘n porsie kan ontvries om daardie dag te eet.
Toe ek jare gelede vir die eerste keer gevas het, het ek elke dag kos vir daardie dag voorberei. Ek het agtergekom dat ek soveel tyd hierop spandeer het, dat ek nie baie tyd gehad het om by God stil te word nie. Maar toe ek begin om in grootmaat kos te maak en te vries, het dit baie makliker gegaan.
Moet dus nie my fout herhaal en soveel tyd spandeer om elke dag kos te maak dat jy nie by God uitkom nie!
STUDIEMATERIAAL.
Hoewel vas en gebed hand aan hand gaan, is daar sommige mense wat ook verkies om meer tyd in die Bybel te spandeer wanneer hulle vas.
As jy dit ook wil doen, dan moet jy voor die tyd besluit wat jy gaan studeer.
Gaan jy ‘n kort Bybelstudie doen? Maak dan seker jy het die studie gekoop of van die internet afgelaai.
Gaan jy self Bybelstudie doen oor ‘n boek of ‘n onderwerp in die Bybel? Besluit dan watter boek of oor watter onderwerp. Kies ook die Bybelstudie-metode wat jy gaan gebruik.
Dalk wil jy ‘n tema vir elke dag kies, met ‘n Bybelvers wat oor daardie tema gaan om oor na te dink. Stel dan jou tema-lysie op met die verse by elke tema. (In die laaste artikel aan die einde van die maand gaan ek vir jou ‘n paar idees van temas en verse vir elke dag gee.)
MEER OOR DIE DANIëLSVAS.
Die Daniëlsvas is ‘n manier van vas waar jy nie heeltemal van kos vas nie.
Die idee kom uit die boek van Daniël in die Bybel, waar hy en sy vriende nie die kos geëet het wat van die koning se tafel af gekom het nie.
Hulle het die toesighouer oor die paleisamptenare gevra om vir hulle net groente en water te gee.
Na tien dae het hulle baie beter gelyk as die jong manne wat die koning se kos geëet het.
WAT OM TE EET.
Dis eintlik sommer baie maklik om te onthou wat jy op hierdie vas mag eet en wat nie.
Die enigste vloeistof wat jy mag inneem, is water. Koffie, tee, koeldrank, melk, sap, ensovoorts word tydens die vas uitgesny.
Enige suiker, alle suiwelprodukte en alle diereprodukte word ook uitgesny. Witmeel, witrys en witpasta is ook vir eers nie meer deel van jou eetpatroon nie.
Dit mag klink asof daar nie veel oorbly wat jy mag eet nie, maar dis nie waar nie.
Alle vrugte en groente, volgraanprodukte, neute en sade, peulgewasse en kwaliteit olies word op die Daniëlsvas toegelaat. Jy kan ‘n hele lys van kosse wat jy op die vas mag eet HIER aflaai.
En as jy hulp met resepte nodig het, kan jy HIER gaan loer.
DIS NIE OOR DIE KOS NIE.
As ‘n mens net sekere kossoorte uitsny wanneer jy vas, is dit maklik om te gefokus te raak op wat jy kan eet en nie kan eet nie.
Onthou, wanneer jy vas beperk jy jou kosinname vir ‘n geestelike doelwit.
Hou dit altyd in gedagte.
Jou tyd met die Here, en wat jy daaruit kry, is baie belangriker as die kos wat jy eet of nie eet nie.
Moenie so gefokus wees op die kos dat jy jou tyd met God afskeep of sommer glad nie tyd met Hom spandeer nie. As jy dít doen, is jy eintlik net besig om te dieet.
RIGLYNE VIR GEBED.
Marilyn Hickey skryf in haar boek, The Power Of Prayer And Fasting, dat ‘n vas bedoel is om jou bietjie te laat wegdraai van jou verbintenis met die aarde.
Die aarde produseer dié dinge wat ons eet en drink. Daarom is dit dan ook ons grootste verbintenis met die aarde.
Gebed, daarenteen, bring ons in verbintenis met die hemel.
Dis dan ook die belangrikste deel van ‘n tydperk van vas en gebed.
In die volgende artikel gaan ons kyk na 10 riglyne vir gebed om ons te help met hierdie geestelike dissipline.
Goeie dag my naam is Claudine en ek wil graag meer van God leer