GEDAGTES OOR VAS EN GEBED

Aan die begin van elke jaar is daar verskeie denominasies wat vir 21 dae lank vas. Daar is ook ‘n hele paar aanlyn-platforms waar jy kan inskakel om aan so ‘n vas deel te neem.

Die idee is om vir 21 dae in Januarie saam as ‘n gemeente of aanlyn-gemeenskap te vas en te bid vir spesieke dinge in jou lewe.

Dalk het jy ‘n gewoonte waarvan jy wil ontslae raak. Dis dan waarvoor jy in daardie 21 dae bid.

Of dalk het jy ‘n probleem en jy het God se hulp nodig. Dalk is daar een of ander verandering wat jy in jou lewe wil sien in die jaar wat voorlê.

Wat dit ookal mag wees, vir daardie 21 dae bid en vas jy vir daardie spesifieke saak.

Vas en Gebed - 'n paar gedagtes

HOE EK GELEER HET VAN VAS EN GEBED.

Ek het nie in ‘n denominasie grootgeword waar ons geleer is oor vas en gebed nie. Dis eers toe ek van ‘n Afrikaanse gemeente na ‘n Engelse een oorgeskuif het, wat ek die geleentheid gekry het om meer daaroor te leer.

Sommer amper met die intrapslag is aangekondig dat die gemeente in Januarie vir 21 dae gaan vas.

Omdat ek niks van vas geweet het nie, het ek aanlyn hulp gaan soek. Dis toe ek afgekom het op Susan Gregory, wat verskeie boeke oor die Daniëlsvas geskryf het. Dis dan ook by haar wat ek baie geleer het oor vas en gebed.

DIE DISSIPLINE VAN VAS EN GEBED.

Baie gelowiges dink dat om te vas en te bid iets is wat net die vroeë Christene gedoen het. Ander dink weer dis iets wat net die Israeliete in die Ou Testament gedoen het.

Maar dis nie waar nie.

Die dissipline van vas en gebed is vandag nog net so belangrik as wat die in die Bybelse tyd was.

REDES WAAROM ONS MOET VAS EN BID.

Kom ons kyk na twee redes waarom ons steeds van die dissipline van vas en gebed in ons lewens moet toepas.

DIE BYBEL LEER ONS OM TE VAS EN BID.

Die Bybel praat nogal baie oor vas en gebed – daar is selfs opdragte dat ons moet vas en bid!

Ons lees ook op meer as een plek in die Bybel van mense wat gevas en gebid het.

Jesus het gevas en gebid. Sy dissipels het, na Sy opstanding, dieselfde gedoen. So ook die dissipels van Johannes die Doper. En baie van die gelowiges in die vroeë kerk het gevas en gebid.

Dan is daar natuurlik baie van die karakters in die Ou Testament, wat om verskeie redes gevas en gebid het.

Dit wat die Bybel ons leer oor vas en gebed, ook wat ons leer uit die voorbeelde van ander, is iets wat ons verseker ter harte moet neem.

VAS EN GEBED PLAAS JOU IN ‘N POSISIE VIR DEURBRAAK.

Jou deurbraak mag ‘n geestelike een wees. Of dalk is dit ‘n emosionele een of een wat met jou gewoontes te doen het. Dit kan selfs te doen hê met jou finansies of verhoudings. Dan kan dit ook te doen hê met God se plan en rigting vir jou lewe.

Dit is so dat vas en gebed wonderlike geestelike resultate lewer. Baie keer is hierdie resultate in die vorm van een of ander deurbraak.

Om te vas en te bid plaas jou in die beste posisie om daardie deurbraak in jou lewe te kry.

DIE BEGINSELS VAN VAS EN GEBED.

Daar is twee beginsels oor vas en gebed waaroor ons volgende gaan gesels.

VAS = GEEN KOS.

Die Hebreeuse woord wat vertaal word as ‘vas’ is die woord ‘tsom’. Dit beteken letterlik ‘om nie te eet nie’.

In Grieks is die woord ‘nesteia’. Dit beteken ‘geen kos’.

Uit hierdie twee definisies sien ons om te vas beteken jy eet nie.

Jy sien, wanneer jy vas stel jy jou vlees onderdanig aan God, sodat Hy jou kan versterk en jou kan help om jouself onder beheer te kry. Om te vas gee jou die nodige krag om sterk te staan teen versoekings en nie daarvoor te val nie.

Ek nie altyd heeltemal van kos gevas het nie. Aan die begin het ek die Daniëlsvas gebruik. Later het ek begin om ‘n maaltyd ‘n dag te vas. Ek het dan gebid en tyd met God spandeer gedurende die tyd wat ek sou geëet het. Dit werk vir my baie beter as om die Daniëlsvas te gebruik.

Om regtig te vas beteken dus dat ‘n mens nie eet nie. Dit kan net een maaltyd wees of dit kan ‘n paar dae se maaltye wees.

VAS EN GEBED LOOP HAND AAN HAND.

Die tweede beginsel wat ons in gedagte moet hou, is dat vas en gebed hand aan hand loop.

Om net nie te eet nie hou nie enige geestelike voordele in nie. Jy moet gebed en vas as, om dit so te stel, twee dele van dieselfde muntstuk sien.

‘n Geestelike vas vra dat jou hart betrokke is. Dit vra dat jou verhouding met God en jou vertroue in Hom, betrokke is.

Daarom kan jy nie sê jy vas as jy nie gebed daarmee saam koppel nie.

WAT JESUS OOR VAS GELEER HET.

Baie mense wil graag weet wat Jesus oor vas geleer het. Maar dalk moet ons eers kyk na wat Hy nié daaroor geleer het nie.

Nêrens in die Evangelies lees ons dat Jesus geleer het hoe gereeld of hoe lank Sy volgelinge moet vas nie. Hy het wel twee beginsels aangaande vas vir ons geleer. Hy het ook gesê dat Sy volgelinge sal vas.

In Mattheus 9 lees ons dat die dissipels van Johannes vir Jesus gevra het waarom hulle en die Fariseërs vas, maar Jesus se dissipels nie. Daarop het Jesus geantwoord: “Die bruilofsgaste kan tog nie treur terwyl die bruidegom by hulle is nie? Maar daar kom ‘n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.”

Hier sien ons die twee beginsels wat Jesus ons leer.

‘N TEKEN VAN ROU OF SMART.

In die eerste plek sê Hy dat om te vas ‘n uitdrukking van rou of smart is. Ons sien oral in die Ou Testament dat mense wat hartseer of ontsteld was, hulle klere geskeur en as op hulle koppe gegooi het. Hulle het ook rouklere, wat grof en ongemaklik was, aangetrek.

Hierdie dinge was ‘n uiterlike teken van hoe hulle innerlik gevoel het.

Die rouklere was ‘n teken dat die persoon een of ander ongemak ervaar het – geestelik of op ‘n ander manier.

Die as verwys na verlies, soms selfs die dood. Dis ‘n teken dat die persoon een of ander verlies ervaar het en dat dit vir hom moeilik was.

Die dissipels kon nie vas terwyl Jesus op aarde was nie, want God se liefde, vreugde en verlossingskrag was oral aan die werk waar Hy was. ‘n Mens kon dus nie rou en verlies met Jesus assosieer nie. Dit was dan ook nie toepaslik vir enige iemand wat in Sy Teenwoordigheid geleef het, om te rou nie.

HULLE SOU WEL VAS EN BID.

In die tweede plek sê Jesus ook dat daar wel ‘n tyd sou wees wat Sy volgelinge sou vas en bid.

Hulle sou vas en bid wanneer hulle geestelik onrustig was.

Hulle sou vas en bid wanneer hulle nie God se krag in hulle bediening sien werk het nie.

Verder sou hulle vas en bid wanneer hulle swak in gees, siel en liggaam gevoel het.

Dan sou hulle ook vas en bid wanneer hulle ver van God gevoel of wanneer hulle getreur het oor die vervolging van ander gelowiges.

Jesus het ook vir Sy dissipels gesê dat hulle soms sou moes vas en bid wanneer hulle God se leiding nodig gehad het. Hulle sou ook soms moes vas en bid sodat hulle die duiwel se aanvalle teen hulle kon weerstaan.

LAAT GOD JOU LEI.

In die Nuwe Testament lees ons ook dat mense gevas en gebid het. Maar daar word eintlik nooit gesê hoe lank hulle gevas het of watter metode hulle gebruik het nie. Ons kan dus aanneem dat hulle gevas het soos die Here hulle gelei het.

En wat waar was vir hulle in daardie tyd is vandag vir ons ook waar.

Ons moet die Here vertrou om ons te lei en vir ons te wys wanneer en hoe ons moet vas. Ons moet Hom ook vertrou om ons te wys wat die doel is van die vas.

Meeste van die tyd sal die Heilige Gees jou die gevoel gee dat jy nie langer met ‘n probleem moet saamleef nie. Jy sal voel dat God iets wonderliks in jou lewe wil doen. Dis dan die tyd om jou so ‘n bietjie van die wêreld te onttrek en te vas en te bid.

Onthou, die Heilige Gees lei ons altyd om te vas en bid sodat ons kan wegbeweeg van die manier hoe ons tans leef en oorgaan na ‘n nuwe en beter manier van leef.

DIE 21-DAE VAS IN JANUARIE.

Jy het dalk nog nooit aan die begin van die jaar vir 21 dae gevas nie. Dalk sou jy dit graag wou doen, maar jy is nie lekker seker hoe nie.

In die volgende artikel gaan ek jou ‘n paar idees oor hierdie vas gee om jou te help. Moet dus nie vergeet om weer ‘n draai hier te maak nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *