PAASFEES: BELOFTES, PROFESIEë EN WETTE WAT JESUS VERVUL HET

Aan die einde van die week vier ons weer Paasfees. Dan onthou ons wat Jesus vir ons gedoen het toe Hy gekruisig is vir ons sondes.

Oral in die Ou Testament het God beloftes gemaak oor die Verlosser wat Hy sou stuur. En elkeen van hierdie beloftes is in Jesus vervul.

Daar is ook profesieë in die Ou Testament oor dinge wat Hy sou doen en wat met Hom sou gebeur. En ook hierdie dinge is vervul.

Dan is daar natuurlik ook die Pasga, in die ouer vertalings Paasfees genoem, waartydens die Israeliete ‘n lam geoffer het, wat heenwys na Jesus. Daar was verskeie wette en opdragte rondom hierdie lam, wat die Israeliete moes gehoorsaam. En elkeen van hierdie wette is ook deur Jesus vervul.

In hierdie artikel kyk ons na van die beloftes, profesieë en wette wat Jesus vervul het toe Hy gekruisig is.

Paasfees

LAM VAN GOD BELOWE.

Belofte Genesis 22:8: Abraham het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.” So het hulle twee saam geloop.

Vervulling – Johannes 1:29: Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

‘N LAM SONDER GEBREK.

Wet – Eksodus 12:5: ‘n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet julle kies; uit die skape of die bokke kan julle dit neem.

Vervulling – Hebreërs 9:13-14: Want as die bloed van bokramme en bulle, en die as van ‘n jong vers, die verontreinigdes deur besprinkeling wy, met die oog op die reiniging van die liggaam, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees as vlekkelose offer aan God geoffer het, ons gewete reinig van dooie werke, sodat ons die lewende God kan dien?

1 Petrus 1:18-19: Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.

GEGESEL.

Profesie – Psalm 129:3: Ploeërs het oor my rug geploeg, hulle ploegvore lank getrek…

Vervulling – Mattheus 27:26: Daarop het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar Jesus het hy laat gesel, en toe oorgelewer om gekruisig te word.

BUITE DIE KAMP LY.

Wet – Levitikus 16:27: Die bul vir die reinigingsoffer en die bok vir die reinigingsoffer, waarvan die bloed in die heiligdom ingeneem is om versoening te doen, moet uit die kamp uitgeneem en met vuur verbrand word: hulle velle, hulle vleis en hulle pensmis.

Vervulling – Hebreërs 13:11-12: Want die karkasse van die diere waarvan die bloed ter wille van die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word, word buite die laer verbrand. Daarom het ook Jesus so buite die stadspoort gely, sodat Hy die volk deur sy eie bloed kon heilig.

KRUISIGING.

Profesie – Psalm 22:17: Inderdaad, honde het my omsingel. ‘n Bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurboor.

Vervulling – Lukas 23:33: Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand.

ASYN TOE HY DORS IS.

Profesie – Psalm 69:21: Hulle het gif in my kos gesit, en vir my dors het hulle my asyn laat drink.

Vervulling – Mattheus 27:33-34: Toe hulle by ‘n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met ‘n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

WORD GESPOT DEUR MENSE.

Profesie – Psalm 22:8-9: Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle gryns en skud die kop: “Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!’

Vervulling – Lukas 23:35-37: Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle naderstaan en vir Hom suur wyn aanbied, met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!”

KLERE ONDER MEKAAR VERDEEL.

Profesie – Psalm 22:19: Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my boklere.

Vervulling – Mattheus 27:35: Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy boklere verdeel deur daaroor te loot.

Johannes 19:24: Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.”

VERLAAT OOR ANDER SE SONDES.

Profesie – Psalm 22:2a: My God, my God, waarom het U my verlaat?

Vervulling – Mattheus 27:46: Teen ongeveer die negende uur het Jesus met ‘n harde stem uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Dit beteken ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’

GEEN BEEN GEBREEK.

Wet – Numeri 9:12: Hulle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende oggend nie. Geen been daarvan mag hulle breek nie. Volgens al die vaste voorskrifte vir die Pasga moet hulle dit vier.

Vervulling – Johannes 19:36: Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

BLOED VLOEI UIT SY SY.

Profesie – Psalm 22:14: Soos water is ek uitgestort, my hele gebeente val uitmekaar; my hart het geword soos was, dit het in my liggaam gesmelt.

Vervulling – Johannes 19:34: Een van die soldate het egter met ‘n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom.

BEGRAWE IN ‘N RYK MAN SE GRAF.

Profesie – Jesaja 53:9a: Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by ‘n ryke was hy in sy dood…

Vervulling – Mattheus 27:57-60: Toe dit laat geword het, het ‘n ryk man van Arimatea, met die naam Josef, daar aangekom. Ook hy was ‘n dissipel van Jesus. Dié man het Pilatus genader en die liggaam van Jesus gevra. Toe het Pilatus beveel dat dit gegee word. Josef het die liggaam geneem, dit toegedraai in ‘n skoon linnedoek en neergelê in die nuwe graf wat hy vir homself in die rots laat uitkap het. Hy het toe ‘n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan.

ONSKULDIG VERKLAAR.

Profesie – Jesaja 53:9: Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by ‘n ryke was hy in sy dood, alhoewel hy nie geweld gepleeg het, en bedrog nie in sy mond was nie.

Vervulling – Lukas 23:41: In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.

Johannes 18:38: Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.”

VERVLOEK IS HY WAT AAN ‘N HOUT HANG.

Wet – Deuteronomium 21:22-23: As iemand ‘n sonde begaan wat die doodstraf verdien, en hy gedood word en jy hom aan ‘n houtpaal hang, mag sy lyk nie die nag aan die paal bly hang nie; maar jy moet hom beslis daardie selfde dag nog begrawe. Iemand wat aan ‘n paal gehang word, is immers ‘n vervloekte by God. Jy mag nie jou grondgebied wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee, verontreinig nie.

Vervulling – Galasiërs 3:13: Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek ‘n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.”

GESTRAF VIR DIE MENS SE OORTREDINGS.

Profesie – Jesaja 53:5: Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.

Vervulling – 2 Korinthiers 5:21: Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

Hebreers 2:9: Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir ‘n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar.

SY LEWE GEGEE OM ONS TE RED.

Profesie – Jesaja 53:12: Daarom sal Ek aan hom ‘n deel gee onder baie; en met magtiges sal hy buit verdeel, omdat hy sy lewe blootgestel het aan die dood, en by oortreders gereken is. Hy het egter die sonde van baie gedra; vir oortreders het hy ingetree.

Vervulling – Lukas 23:46: Met ‘n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas.

JESUS STAAN OP UIT DIE DOOD.

Jesus het nie net beloftes, profesieë en wette vervul toe Hy gekruisig is nie, maar ook met Sy opstanding. Volgende week gaan ons kyk na van dié dinge wat Hy vervul het toe Hy uit die dood opgewek is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *