WAT DIT BETEKEN OM JESUS TE VOLG

Het jy al ook gewonder wat dit beteken om Jesus te volg?

Dan is jy nie alleen nie.

Om Jesus te volg is nie so gekompliseerd soos ons dink nie. Ongelukkig beteken dit ook nie altyd wat sommige mense dink dit beteken nie.

Maar kom ons begin by die begin, sodat ons kan verstaan wat dit beteken om Jesus te volg.

Wat dit beteken om Jesus te volg

DIE EERSTE DISSIPELS.

Onthou jy die verhaal van die roeping van die eerste dissipels?

Ons lees daarvan in Mattheus 4:18-22; Markus 1:16-20 en Lukas 5:1-11.

In beide die Mattheus- en Markus-weergawes staan een frase uit: “Volg My….”

En as ons lees van die roeping van Levi, sien ons dit weer: “Volg My…” (Lukas 5:27).

Dit lyk asof dit Jesus se standaard uitnodiging was aan die twaalf manne wat Hy gekies het om Sy eerste dissipels te wees.

Volg My!

WAAROM HULLE GEROEP WORD.

Nou wonder jy dalk waarom Jesus spesifiek hierdie twaalf mans gekies het.

Wat was so spesiaal omtrent hulle?

Ek dink die grootste rede was omdat hulle bereid was om Hom te volg.

Van Petrus en Andreas lees ons dat hulle besig was om vis te vang. Jesus sien hulle en sê, “Volg My….”. Hulle los onmiddellik hulle nette en volg Hom (Markus 1:17-18).

Ons lees dieselfde van Jakobus en Johannes, en ook van Levi.

Nie een keer lees ons dat een van die manne eers oor die saak gedink het nie. Hulle het ook nie daaroor geargumenteer of gevra wat se voordele hulle daaruit gaan trek nie.

Nee, hulle het eenvoudig alles laat staan om vir Jesus te volg.

Vir drie jaar het hulle dag na dag saam met Jesus geleef.

Hulle het gesien hoe Hy optree en gehoor wat Hy sê. Hulle het gesien hoe Hy mense behandel en liefhet.

En Hy het hulle die woorde, die waarhede, van God geleer.

Op hulle beurt moes hulle weer uitgaan en doen wat Jesus gedoen het. Hulle moes vir ander wys hoe Jesus opgetree het. Hulle moes Sy woorde met ander deel en hulle liefhê soos Hy hulle liefgehad het.

EK EN JY WORD OOK GEROEP.

Net soos Jesus vir die dissipels gesê het, “Volg My…”, sê Hy dit vandag steeds vir mense.

Hy het dit ook vir jou en vir my gesê.

Wanneer ons daardie woorde hoor en die keuse maak om Hom te volg, begin Hy ‘n pad met ons stap.

Op verskeie maniere, maar veral in die Woord, in gebed en deur die Heilige Gees, openbaar Jesus Homself aan ons.

In die Bybel sien ons wat Hy doen. Ons hoor wat Hy sê. Ons word ook die waarheidwoorde van God geleer.

Dit help ons om Hom beter te leer ken en stel ons beter in staat om Hom te volg.

DIE DOEL VAN ONS ROEPING.

Jy het dalk nou weer ‘n vraag.

Dalk wonder jy waarom die Here jóú geroep het?

Net soos die dissipels elke dag tyd met Jesus gespandeer het en so baie dinge omtrent Hom geleer het, wil Hy ook hê jý moet tyd met Hom spandeer.

Hy wil jou alles omtrent Homself leer, en, soos jy leer, gaan Hy jou verander sodat jy al meer soos Hy word.

Jy sien, dit is wat met die eerste dissipels gebeur het.

Hulle tyd met Jesus het hulle voorberei vir die werk wat hulle agterna moes doen.

Bietjie vir bietjie het hulle tyd met Jesus hulle verander sodat hulle ook soos Hy opgetree, gepraat en liefgehad het.

En dit is presies wat Hy met jou en met my ook wil doen.

Hy wil ons verander na Sy beeld en ons dan gebruik om ander te wys wie Hy is. Deur ons woorde en dade wil Hy Homself aan ander bekendmaak sodat hulle Hom ook kan ken.

LEES OOK: EIENSKAPPE VAN ‘N DISSIPEL

OM JESUS TE VOLG.

Jy sien, om Jesus te volg is veel meer as om Hom aanbid.

Om Jesus te volg beteken ek word soos Hy.

Ek begin om dinge te doen soos ek in die Woord sien Hy dit doen.

Ek lees Sy woorde en maak hulle my eie – dus begin ek praat soos Hy gepraat het.

Verder sien ek hoe Hy mense liefgehad het. En ek doen dit ook.

In Afrikaans het ons ‘n mooi woord – na-aap.

Dít is wat dit beteken om Jesus te volg.

Om Jesus te volg beteken ek na-aap Hom, of boots na wat Hy gesê en gedoen het.

En gelukkig hoef ons dit nie in eie krag te doen nie.

Nee, ons het die Heilige Gees en die krag van God in ons om ons daarmee te help.

Vandag wil ek jou aanmoedig om Jesus te volg.

Doen wat Efesiërs 5:1 ons maan om te doen: “Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders….”

Laat die Heilige Gees toe om jou te verander na Jesus se beeld, en gaan leef dan daardie beeld uit na ander toe.

Volg Hom!

2 thoughts on “WAT DIT BETEKEN OM JESUS TE VOLG

  1. Liesa,
    Mag ek van jou boodskappe gebruik om mense te bemoedig en die Evangelie te verkondig asseblirf?

    • Risa Cronje

      Hallo Jan! Jy mag dit met liefde doen! Ek vra net dat, as jy een van Nader In Eenvoud se boodskap gebruiks, dat jy sê waar jy dit gekry het en, waar moontlik, ‘n skakel na die webblad plaas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *