UIT DIE HAND VAN GOD – ‘N BYBELLEESPLAN

Juliemaand se Bybelleesplan-onderwerp is Uit Die Hand Van God. Lees self watter wonderlike geskenke jy as God se kind, elke dag uit Sy hand ontvang.

Uit die Hand van God - 'n Bybelleesplan

Dit is alweer die einde van nog ‘n maand, wat beteken dis tyd vir ‘n nuwe Bybelleesplan.

Wat is ‘n Bybelleesplan?

Eenvoudig!

Dit is ‘n plan wat jou help om elke maand kwaliteittyd in die Bybel te spandeer.

As jy ‘n leesplan het, beteken dit jy hoef nie in die oggend te wonder waar jy vandag gaan lees nie. Jy volg net elke dag die leesplan.

Hier by Nader In Eenvoud is elke leesplan net 21 dae lank. Dit gee jou die geleentheid om, as jy dalk iewers ‘n dag of twee gemis het, weer te kan opvang. Of, as jy lus is om elke nou en dan iets anders te lees, dan het jy tyd om dit ook te doen.

Onder aan elke leesplan is daar ‘n klompie vrae om jou te help om die teks te oordink. Die vorige leesplanne het altyd net so drie of vier vrae gehad. Hiérdie maand is daar egter baie meer vrae, sodat jy regtig meer in diepte die Woord kan oordink.

JULIEMAAND SE BYBELLEESPLAN.

Die leesplan vir Julie se onderwerp is, Uit Die Hand Van God.

Het jy al opgelet hoeveel dinge ‘n mens uit God se hand ontvang?

Dit maak regtig nie saak wat jy nodig het nie, God kan dit vir jou gee.

Hy het alreeds só baie gegee, en dit is waarna ons hierdie maand gaan kyk.

Kry hierdie maand se gratis Bybelleesplan!

GESKENKE UIT DIE HAND VAN GOD.

Daar is só baie dinge wat God in Sy groot liefde en genade vir ons gegee het.

JESUS, VERLOSSING, VERGIFNIS, FAMILIE.

Die wonderlikste geskenk wat ons van God ontvang het, is ons Verlosser, Jesus.

Hy het kom doen wat nie een van ons kan doen nie.

Hy het die prys vir ons sondes betaal, en wanneer ons in Hom glo, word ons verlos van sonde, die dood, en God se straf.

Ons word dan deel van God se familie – ons word kinders van God.

Saam met ons verlossing is daar dan ook dinge soos vergifnis van sonde en geregtigheid van God in Christus (2 Korinthiërs 5:21, O.V.).

LEES OOK: SKOONGEWAS DEUR JESUS SE BLOED

DIE HEILIGE GEES.

En moenie vergeet van die geskenk van die Heilige Gees nie!

Hy is ‘n Vriend, ‘n Trooster, ‘n Helper, en soveel meer.

Hy leer ons die waarheid en herinner ons aan alles wat ons reeds geleer het.

Dan help ons ook om te bid en dit is Hý wat in ons werk om ons meer soos Jesus te maak.

DIE WOORD.

Nog ‘n geskenk uit God se hand, is Sy Woord.

Wat sou ons tog gemaak het sonder die Bybel?

Ek is altyd so dankbaar dat daar slim mense was wat die Bybel in ons eie taal vertaal het, sodat ons dit ook kan lees.

Net vanoggend dink ek weer aan al die dinge wat die Woord in ons lewens doen.

Dit leer ons wie God is, wat Hy doen en hoe Hy dit doen.

Dit leer ons wie ons is sonder Christus, en ook wie ons is nadat ons Hom aangeneem het. Ons het mos nou ‘n nuwe identiteit!

Uit die Woord leer ons hoe om die lewe saam met God te leef en wat om te doen om ‘n seën te wees vir almal om ons.

Die Woord vernuwe ons gedagtes, met ander woorde dit leer ons om reg te dink.

Dit leer ons ook om reg te praat, sodat ons die waarheid van God altyd op ons lippe kan hê.

Verder help dit ons om aan God toegewy te wees en heilig te lewe (Johannes 17:17).

Hierdie is maar net ‘n paar dinge wat God se geskenk, die Woord, in ons lewens doen.

Leer meer oor die geskenke uit die hand van God in hierdie maand se Bybelleesplan.

NOG GESKENKE UIT GOD SE HAND.

Dan is daar natuurlik ook nog ander geskenke wat God vir ons gee.

Hy nooi ons om by Hom te skuil, sodat Hy ons kan beskerm.

Wanneer ons siek is, kan ons bid en op Sy beloftes staan en Hom vertrou om ons te genees.

Ons kan Hom vra om in ons fisiese behoeftes te voorsien, en verseker weet dat Hy dit sal doen (Mattheus 6:33).

As ons wysheid nodig het, kan ons ons Hom daarvoor vra. En, as ons in geloof vra, kan ons ook verseker wees daarvan dat Hy vir ons wysheid sal gee (Jakobus 1:5).

Dit maak regtig nie saak wat ons in die lewe nodig het nie, God is die bron daarvan en Hy sal dit vir ons gee.

Ons moet net Sy Woord lees, sodat ons kan weet wat Hy reeds gegee het, en wat Hy belowe om nog te gee.

En dan moet ons Hom vertrou om te doen wat Hy beloof het.

Ek nooi jou dus uit om hierdie maand saam met ons tyd in die Woord te spandeer en meer te leer van al die gawes en geskenke uit die hand van God.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *