Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan (Kolossense 3:23-24).
In konteks gesien, praat bogenoemde vers met slawe, maar kom ons dink vandag so ‘n bietjie oor hoe dit ons lewens gaan raak as ons hierdie vers toepas in elke area van ons lewens. Hoe gaan dit jou en my lewe verander as ons regtig alles doen vir die Here en nie vir mense nie?
Meeste van ons bestuur elke dag ‘n motor. En dit is nie ‘n maklike taak nie! Dit laat ‘n mens se hare rys om te sien hoe min bestuurders hulle aan die verkeersreëls steur, en dat daar nie meer motorongelukke plaasvind nie, is net genade van Bo.
Maar wat sou gebeur as gelowiges begin om hulle motors te bestuur asof hulle dit vir die Here doen? Jy gaan die verkeersreëls gehoorsaam. Jy gaan by die spoedgrens hou en by stopstrate stop. Jy gaan nie geïrriteerd raak met die ou wat teen ‘n slakkepas voor jou ry nie. Jy gaan ander voorkeur gee en nie kwaad word as die taxi voor jou ry as dit nie sy beurt is nie (ek sukkel met hierdie een!). Jy gaan jou bes doen om God te eer deur gehoorsaam te wees aan die verkeersreëls asook aan die voorskrifte wat God in Sy Woord gee oor hoe ons ander moet behandel.
As jy jou werk vir die Here doen, en nie vir die baas of om bloot jou salaris te verdien nie, gaan jy dit met lus en vreugde doen. Jy gaan meer doen as wat van jou verwag word. Jy gaan jou beste gee en nie tyd mors nie. Jy gaan nooit laat kom vir werk nie en nie ‘n paar minute ekstra teetyd neem nie. Jy gaan die vriendelikste en hulpvaardigste persoon in die kantoor wees, en dit gaan vir jou kollegas ‘n plesier wees om saam met jou te werk.
As jy jou rol as man of vrou sien as ’n instrument om jou liefde vir God uit te leef en Hom te eer, gaan jy nie meer dinge doen omdat dit van jou verwag word nie. Jy gaan kos maak en skottelgoed was met vreugde en dankbaarheid in jou hart vir die gesin wat God jou gegee het. Jy gaan die gras sny en die vuilgoed uitsit met ‘n huppel in jou stap. Jy gaan vriendelik, geduldig en behulpsaam wees. Jy gaan dinge vir jou lewensmaat doen sonder dat jy gevra word om dit te doen.
In Mattheus 6:33 sê Jesus dat ons God se Koninkryk en Sy geregtigheid eerste moet soek. Ons moet God dus eerste stel in ons lewens. En een manier om dit te doen is om alles wat jy doen te doen asof dit vir Hom is en nie vir mense of geld of aansien of omdat niemand anders dit wil doen nie.
Leef dus jou liefde vir God uit deur wat jy ook al doen van harte te doen. Doen dit vir die Here. Doen dit om Hom te eer.
Onthou, dit is in Sy diens wat ons staan!