Liefde, volgens Gary Chapman, word op verskillende wyses deur mense ervaar en bewys. Almal het ‘n primêre liefdestaal, en jy voel sommer hoe lief is iemand anders vir jou as hy jou liefdestaal ‘praat’. Daardie liefdestaal is dan ook die een wat jy gebruik wanneer jy jou liefde aan ander wil bewys.
God is vloeiend in elkeen van die vyf liefdestale.
Verlede week het ons gekyk hoe Hy Sy liefde teenoor ons bewys deur dit wat ons uit Sy hand ontvang (geskenke), asook Sy gebruik van opbouende woorde om ons van Sy liefde te verseker. Laastens het ons gekyk na kwaliteit-tyd, en gesien dat dit vir God net so belangrik is om kwaliteit tyd saam met ons te spandeer as wat dit vir baie van ons is.
Vandag gaan ons kyk na die laaste twee liefdestale, naamlik diensbaarheid (dade) en fisieke aanraking.
Ook hierdie twee tale praat God beter as wat enige van ons dit ooit sal kan doen.
Die Vader het Sy groot liefde aan ons bewys deur Sy eniggebore Seun te stuur, wat op Sy beurt weer Sy liefde bewys het deur ‘n daad wat Hy alleen kon doen. Hy gee Sy lewe aan die kruis. Hy, wat geen sonde geken het nie, word sonde in ons plek sodat ons met God versoen kan word en Sy kinders kan wees.
Nog nooit het iemand ander op so ‘n manier gedien nie, en niemand sal dit ooit in die toekoms doen nie.
Na God die Israeliete uit Egipte gelei het, bewys Hy Sy liefde aan hulle deur dade (diensbaarheid) in antwoord op hulle gebede. Vyande word verslaan, siektes word genees, en droogtes word beïndig. Dit alles gebeur in antwoord op gebed.
God is steeds besig om Sy liefde aan ons te bewys deur Sy dade.
Hy voorsien in ons daaglikse behoeftes. Hy hoor en gee reën as ons daarvoor vra. Hy maak siekes gesond. Hy beskerm ons elke dag. Kyk maar net om jou rond, en jy sal elke dag jou vinger kan lê op talle dinge wat God doen in jou lewe.
Maar dalk is jou liefdestaal nie een van die wat ons reeds oor gepraat het nie. Dalk voel jy eers regtig iemand se liefde wanneer hulle jou fisiese aanraak. Dit mag dalk klink of God dit bietjie moeilik gaan vind om hierdie taal te praat aangesien ons Hom nie kan sien nie, maar ook in hierdie taal is Hy vloeiend.
Mense wat fisiese aanraking as liefdestaal het, is gewoonlik diegene wat makliker God se teenwoordigheid by hulle voel. Ek het al gehoor mense beskryf dit as ‘n warmte wat oor hulle kom of iets soos wind wat by hulle verbygaan. Dit is ook wanneer jou emosies op so ‘n manier geraak word en jy God ervaar in die vreugde en vrede wat jou oorweldig. Of wanneer iemand vir jou bid terwyl hulle net jou hand vashou, en jy bewus raak van God by jou.
Jesus het gereeld mense aangeraak. Onthou jy die melaatse wat na Jesus toe gekom het en vir Hom gesê het, “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg.
Of wat van die keer toe Jesus Sy dissipels se voete gewas het? Dit was ‘n taak wat gewoonlik deur ‘n slaaf afgehandel was, maar hier is die Seun van God besig om Sy liefde aan die dissipels te bewys nie net deur aanraking nie, maar ook deur ‘n daad van diensbaarheid.
Dit maak nie saak wat jou liefdestaal is nie. God kan dit volmaak praat. En die beste van alles, Hy praat ook al die ander liefdestale teenoor jou om jou elke dag oor en oor te verseker dat Hy jou liefhet!
God is liefde, en liefde is die motief vir alles wat Hy doen.
Ek wil jou uitdaag om elke dag ‘n punt daarvan te maak om bewus te raak van die verskillende maniere waarop God Sy liefde aan jou bewys, selfs al is die liefdestaal wat Hy op die oomblik praat, nie jou primêre een nie.
God het jou lief, en Hy wys dit elke dag op verskillende maniere vir jou. Jy moet net jou oë oopmaak!