PSALM 91:1-2: JY IS VEILIG BY DIE HERE

Psalm 91 is een van daardie gedeeltes wat amper soos ‘n sagte kombers om ‘n mens vou en jou laat veilig voel omdat jy weet die Here Self waak oor jou. Dis ‘n psalm wat ek graag lees, veral wanneer die lewe moeilik raak of wanneer ek myself net weer wil herinner aan Wie my skuilplek is. In hierdie artikel gaan ons saam die VOLG-metode gebruik om na Psalm 91:1-2 te kyk.

Psalm 91:1-2: jy is veilig by die Here

Ons begin met die V van VOLG, wat staan vir Vra God Se Leiding. So, kom ons bid saam.

Here, U woord is ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig vir ons lewenspad. Ons bid dat U ons oë sal oopmaak, sodat ons die wonders uit U Woord kan raaksien. Amen.

Volgende kom ons by O, wat staan vir Ondersoek die teks. Dit beteken ons lees die gedeelte waarna ons kyk en kyk dan ook wat se dinge ons in die teks sien, soos wie die karakters in die gedeelte is, wat hulle doen, waar hulle is, met ander woorde, wat gebeur in die teks.

In Psalm 91:1-2 staan: Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

In dié twee verse word daar van twee persone gepraat. Eerstens is daar die mens wat skuiling vind by die Allerhoogste. Die tweede Persoon is die Here Self.

Ons sien dat die mens iets doen – hy vind skuiling by die Allerhoogste. Ons sien ook dat hy iets vir Here sê – hy verklaar sy geloof dat die Here hom beskerm en dat hy die Here vertrou.

Dan sien ons ook dat die Here iets doen. Hy beskerm die mens wat by Hom skuil.

Nou kom ons by die L van VOLG, wat staan vir Let op die lesse. Wanneer ons let op die lesse, begin ons altyd met die vraag: wat leer ek uit die gedeelte oor God? So, kom ons kyk ‘n bietjie daarna.

Ons sien vier Name van God in hierdie twee verse: Allerhoogste, Almagtige, Here en God.

Allerhoogste verwys na ‘n posisie. Dit beteken dat God bo alles is, dat daar niemand is wat groter en belangriker is as Hy nie.

Almagtige, Here en God is al drie titels. Maar Almagtige beteken ook dat God alles kan doen. Daar is letterlik niks wat vir Hom onmoontlik is nie.

Verder sien ons ook dat God ‘n toevlug en ‘n veilige vesting is. Dit verduidelik vir ons ‘n rol wat God in ons lewens speel, want Hy is die Een wat ons beskerm en ons veilig hou. Dit gee ons ook ‘n kykie na die Karakter van God, want dit sê vir ons dat dit in Sy natuur is om die mens te beskerm.

Ons leer dus dat God, wat groter is as enige iets of iemand in hierdie wêreld, vir ons ‘n skuilplek wil wees, want Hy wil ons beskerm. En dit maak nie saak wat hierdie ou lewe ons kant toe gooi nie, die Here is in staat om ons te beskerm en ons veilig te hou, want niks is vir Hom onmoontlik nie.

Noudat ons gekyk het wat ons oor die Here kan leer, is ons volgende vraag: wat leer ek uit die gedeelte oor die mens? In vers 1 sien ons dat die mens in dié gedeelte by God gaan skuiling soek het. Hy het nie probeer om homself te beskerm nie, maar het die Here gesien as sy toevlug en sy veilige vesting en dit vir Hom gesê ook. Hy het dus op die Here vertrou om hom veilig te hou.

Ons sien dus dat ons ‘n keuse het. Ons kan kies om na God toe te vlug en by Hom te skuil en Hom te vertrou om ons te beskerm. Of ons kan kies om na onsself te probeer omsien en doen wat menslik moontlik is om onsself te probeer veilig hou, wat eintlik – as ons nou eerlik is – maar nie veel is nie.

Noudat ons gesien het watter lesse ons uit Psalm 91:1-2 kon leer, is dit tyd om aan te beweeg na die G van VOLG. Dit staan vir Gaan en wees ‘n doener van die Woord.

Elkeen van ons gaan dit wat ons geleer het, op ‘n ander manier in ons lewens toepas. Maar hier is vier maniere hoe jy dit dalk kan doen:

Nommer 1. Vertrou God. Doen wat Hy in Filippense 4:6 sê: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” As jy dít doen sal vers 7 ‘n werklikheid in jou lewe wees: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Nommer 2. Maak jou hart vol met die Woord, nie met die nuus nie. Soek vir jou verse en gedeeltes wat spesifiek praat oor God se liefde, Sy getrouheid en dat Hy beskerm, sorg en versorg. Lees dit en luister daarna om jou te bemoedig en jou geloof te versterk.

Nommer 3. Memoriseer Psalm 91 en verklaar dit gereeld hardop oor jou en jou gesin.

Nommer 4. Sien die Here as jou skuilplek. Verklaar jou geloof en vertroue in Hom deur vir Hom te sê: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou!”

Psalm 91:1–2 herinner ons daaraan dat ons nie weerloos is in hierdie wêreld nie. Ons het ‘n Allerhoogste, Almagtige God wat ons nie net kan beskerm nie, maar ons graag wil beskerm. En ons het die voorreg om te kies om by Hom te skuil, Hom te vertrou en Sy woord oor ons lewens te verklaar.

Mag hierdie twee verse vir jou ‘n anker wees in jou dag-tot-dag-lewe.

Mag dit jou help om jou fokus te verskuif van jou eie krag na die Here se almag, van jou vrese na Sy waarheid, en van jou bekommernisse na die toevlug wat net Hy kan gee.\

Onthou, die Here is jou veilige vesting, so vertrou Hom om jou te alle tye te beskerm. Wanneer jy dit doen, ontdek jy dat Sy vrede en beskerming nie net woorde op ‘n bladsy in die Bybel is nie, maar dat dit ‘n werklikheid word in jou lewe!

As jy meer wil weet oor die VOLG-metode en hoe jy dit kan gebruik in jou stiltetyd of jou Bybelstudie-tyd, maak dan gerus ‘n draai in ons aanlyn-winkel. Daar is ‘n e-gids – Jesus, Die Bybel, En Jy – wat jou presies gaan leer wat jy oor die VOLG-metode moet weet. Saam met die gids kry jy ook ‘n studie – Waag Dit Om Anders Te Wees – waar jy die VOLG-metode gebruik om te kyk na na Bybelgedeeltes wat wys hoe ‘n kind van God anders leef as die wêreld en so die Here verheerlik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *