JOU FOKUS KAN JOU LEWE VERANDER

In sy boek, Hou op kwel en begin lewe, vertel Dale Carnegie die verhaal van Frank J. Whaley. Die arme man het ‘n senu-instorting gehad as gevolg van kommer.

Hy het hom oor net mooi alles bekommer. Hy was bekommerd oor sy gewig en oor sy hare wat uitgeval het. Hy was bekommerd dat hy nie genoeg geld verdien om te kan trou nie, dat sy meisie hom in elk geval gaan los en dat hy nie ‘n goeie pa vir sy toekomstige kinders sou wees nie. Hy was bekommerd oor wat ander van hom gedink het, en dat sy lewe nie juis ‘n goeie een was nie.

Hy het hom oor so baie dinge bekommer, dat hy nie kon funksioneer by die werk nie, en hy het bedank. Die kommer het in hom opgebou totdat hy uiteindelik ‘n senu-instorting gehad het.

Hy kon nie sy gedagtes beheer nie en het heeltyd in vrees gelewe. Die kleinste geluidjie het hom die skrik op die lyf gejaag, en dit het nie veel gekos om hom in trane te laat uitbars nie. Dinge het vir hom te erg geraak, en hy het dit sterk oorweeg om selfmoord te pleeg.

Toe besluit hy om na Florida te gaan in die hoop dat ‘n nuwe omgewing hom goed sal doen. Sy pa het hom by die treinstasie kom afsien. Toe Frank op die trein klim, gee sy pa vir hom ‘n brief en vra dat hy dit nie sal lees voor hy in Florida aankom nie.

In Florida gekom, vind Frank dat hy ‘n slegte tyd gekies het om te kom. As gevolg van baie toeriste kon hy nêrens ‘n kamer in ‘n hotel kry nie, en moet toe noodgedwonge ‘n klein kamertjie in ‘n motorhawe huur.

Hy kon nie werk kry nie, en besluit toe maar om sy tyd op die strand te verwyl.

Hy het nou nog slegter gevoel as by die huis.

Op ‘n dag maak hy die brief, wat sy pa vir hom gegee het, oop. Sy pa skryf: “Seun, jy is meer as ‘n duisend myl van die huis af, en jy voel nie beter nie, voel jy? Ek het geweet jy sou nie beter voel nie, want jy het die oorsaak van al jou probleme met jou saamgeneem – jouself. Liggaamlik en sielkundig makeer jy niks. Jou omstandighede is ook nie die probleem nie. Dit is wat jy van die omstandighede dínk wat al jou probleme veroorsaak het. ‘Want soos [‘n mens] in sy siel bereken, so is hy.’ As jy dít besef, kom huistoe, want dan is jy genees.”

Sy pa se brief het vir Frank kwaad gemaak. Hy wou hê sy pa moet hom jammer kry, nie vir hom preek nie en hy het besluit dat hy nooit weer sy voete by sy ouerhuis sal sit nie.

Daardie aand, terwyl hy in die strate ronddwaal, loop hy by ‘n kerk verby waar hulle besig is met ‘n diens. Op die ingewing van die oomblik besluit hy om in te gaan.

Die preek handel oor die tweede gedeelte van Spreuke 16:32: “…en hy wat sy gees beheers, [is beter] as een wat ‘n stad inneem.”

Die preek gryp hom aan die hart, want dit is dieselfde gedagtes as wat sy pa vir hom geskryf het. Dit maak sy kop skoon en hy besef hy het soos ‘n dwaas opgetree. Hy wou die wêreld en almal om hom verander, en al wat eintlik nodig was, was om sy fokus te verander.

Die volgende oggend is hy huistoe. ‘n Week later was hy terug by die werk en vier maande later is hy getroud met die meisie wat hy bang was hom gaan los. Hulle het vyf kinders gehad en hy het baie goed gedoen op alle gebiede van die lewe.

Ons kan nie van onsself af wegkom nie. Waar jy gaan… daar is jy! Enige probleem of bekommernis wat jy in jou hart ronddra, gaan saam met jou. Selfs ‘n verandering van omgewing los selde die probleem op.

Soos Frank, moet ons besef dat ons die fokus moet verander. Wanneer ons op die omstandighede en probleme fokus, is dinge donker. Ons begin berge van molshope maak, en ons verbeelding hardloop met tye met ons weg en ons sien allerhande moeilikhede raak wat nie eens daar is nie.

Maar as ons die fokus verander, en op God en Sy Woord fokus, lyk dinge heel anders.

Dan breek die lig deur die donker, en word jou hart en gedagtes weer gevul met hoop en vreugde.

Jy het dus vandag ‘n keuse waarop om te fokus. Gaan jy jou fokus en gedagtes rig op dit wat verkeerd loop in jou lewe? Of gaan jy fokus op God en die beloftes in Sy Woord, en Hóm vertrou om jou probleme vir jou op te los?

Die keuse is joune.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *