Het jy gehoor van die man wat op ‘n stadium vreeslik jaloers geraak het op sy vriende wat sulke duur en luukste huise besit het? Dit het hom só gepla dat hy nie meer in die nag kon slaap nie. Einde ten laaste besluit hy die enigste oplossing is om sy huis in die mark te sit. Die plan was om die huis te verkoop en dan vir hom ‘n groter, meer indrukwekkende huis te koop. Een oggend, terwyl hy die koerant tydens ontbyt sit en lees, val sy oog op ‘n advertensie vir ‘n huis wat vir hom na net die regte een klink. Opgewonde skakel hy die huisagent. “Die huis wat in vandag se koerant geadverteer word is presies waarna ek op soek is,” val hy weg. “Ek wil asseblief so gou as moonlik daarna gaan kyk.” Die agent vra hom ‘n paar vrae en sê, “Maar meneer, dit is dan jou eie huis wat jy daar beskryf!”
Ek kan my net voorstel hoe die man gevoel het! Om te dink hy het so ‘n krater van homself gemaak. Maar hopelik het dit hom ook stof tot nadenke gegee.
Dit is maklik om ongelukkig te raak met dit wat jy het.
Die huis is te klein en nie so luuks soos jou vriende s’n nie. (As die huismark net beter gelyk het, het jy dadelik die ou klein plekkie verkoop en ‘n paleis van ‘n huis aangeskaf.)
Jou motor raak oud en ry nie so vinnig soos jou kollega s’n nie. (En jy vergeet gerieflikheidshalwe dat jóú motor reeds betaal is terwyl kollega nog baie op syne skuld.)
Jou klere is nie volgens die nuutste mode nie, jou werk betaal nie genoeg nie, en jou man/vrou is nie meer so aantreklik/mooi soos hy/sy was toe julle getroud is nie.
Niks is meer goed genoeg nie. Nee, jy begeer groter, beter, duurder, meer en mooier.
Om ontevrede te wees met wat jy het, kan só erg raak, dat jy naderhand glad nie meer die mooi in die lewe raaksien nie. Jy fokus net op dit wat jy nié het nie, en kyk wat jy wél het, heeltemal mis. (Dieselfde kan gebeur wanneer jy probleme ondervind. ‘n Mens kan só gefokus raak op die probleme, dat jy die dinge wat nog uitwerk en reg loop in jou lewe, heeltemal uit die oog verloor.)
Jesus gee die volgende waarskuwing in Lukas 12:15: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Een van die ander vertalings stel dit só: “Julle moet oppas, julle moenie meer en meer goed wil hê nie…” En in 1 Timotheus 6:6-8 skryf Paulus: “Maar wanneer ‘n mens vir God dien en jy is ook tevrede met wat jy het, dan het jy baie. Want ons het niks ingebring in die wêreld nie, en ons kan ook niks uitneem uit die wêreld nie. Daarom moet ons tevrede wees wanneer ons kos en klere het.”
Hiermee probeer ek glad nie sê dat God wil hê jy moet met niks deur die lewe gaan nie! Inteendeel, Hý is die Een wat al die goeie wat jy ontvang, vir jou gee. Dit is Hý wat voorsien in jou behoeftes. Hy weet wat jy daagliks nodig het om van te leef, en Hy voorsien dit mildelik, en dan seën Hy jou ook nog met allerhande ander dinge, wat jy nie noodwendig nodig het om van te leef nie, maar wat jy sommer net kan geniet.
God is nie gekant teen besittings nie, maar teen gierigheid. Hy wil hê jy moet die goeie waarmee Hy jou geseën het raaksien, en Hom daarvoor dank. En wanneer jy iets nodig het, wil Hy hê jy moet Hóm daarvoor vra en Hom vertrou om dit op die regte tyd en regte manier vir jou te gee.
Hy wil nie hê jy moet jaloers wees op wat ander het nie. Hy wil nie hê jou fokus moet wees op wat jý kan doen om groter, beter en meer te kry as die volgende persoon nie.
Onthou dat jy dit wat jy hier op aarde besit, in elk geval nie saam met jou hemel toe kan neem nie.
Moet dus nie jaloers wees op ander en op hulle besittings nie. Sien raak wat God vir jou gegee het, en dank Hom daarvoor.
Moenie jou hele lewe wy aan die versamel van groter, beter en meer besittings nie. Baie mense het die belangrike dinge in die lewe – hulle verhouding met God en met hulle gesin – al verloor in hulle pogings om meer te besit. Vra vir God wat jy nodig het, vertrou dat Hy dit sal voorsien, en wees dan dankbaar daarvoor.
Hou jou oë gerig op Jesus. Doen dinge op Sý manier. En Hy sal vir jou gee wat jy ookal nodig het (Mattheus 6:33).