LEEF STADIGER IN ‘N GEJAAGDE WêRELD

Voel dit soms vir jou ook asof die lewe een groot gejaag is? Die wêreld beweeg vinnig. Verandering op verskeie gebiede gebeur vinnig. Daar word van ons verwag om meer en meer te doen en om dit reg te kry, moet mens al hoe vinniger beweeg en dinge al hoe vinniger doen ook. Al hierdie dinge kan ‘n mens nogal oorweldig laat voel.

Maar ek dink nie dis hoe God bedoel het ons moet leef nie. Om heeltyd te jaag is nie goed vir ons gesondheid nie. Dis nie goed vir ons geestelike en emosionele welstand nie. En dis veral nie goed vir ons verhoudings nie. Daarom moet ons leer om minder gejaag deur die lewe te gaan.

Leef stadiger in 'n gejaagde wêreld

Jesus is vir ons die perfekte voorbeeld van iemand wat ‘n rustige en gefokusde lewe geleef het.

Dink byvoorbeeld aan die verhaal van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.

Jesus was op pad na Jaïrus se huis om sy dogtertjie, wat besig was om dood te gaan, te genees. Maar dan kom Hy agter dat iemand aan Hom geraak het en dat daar krag uit Hom gegaan het.

Hy gaan staan stil, draai na die skare en vra, “Wie het My aangeraak?”

Petrus is vinnig om Hom daarop te wys dat daar baie mense is wat om Hom saamdrom en dat dit mos nou logies is dat mense aan Hom sal raak.

Maar Jesus weet krag het uit Hom uitgegaan en Hy verduidelik dat dit is waarom Hy vra.

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, besef dat sy nie ongesiens sal kan verdwyn nie en kom dus maar na Jesus toe en vertel vir Hom haar storie.

Ten spyte van die feit dat Jesus geweet het Jaïrus se dogter is na aan die dood, staan Hy stil en luister rustig na wat die vrou Hom vertel.

Ek is seker min van ons sou so gereageer het.

Ons sou een van drie dinge gedoen het. Sommige van ons sou bly aanstap het en gemaak het asof niks gebeur het nie. Ander sou dalk gestop het, maar die vrou nooit kans gegee het om haar storie te vertel nie. En nog ander sou na haar storie geluister het, maar heeltyd seker gemaak het sy weet hoe haastig ons is en dat sy vinnig moet praat.

Dis egter nie wat Jesus gedoen het nie. En as ons soos Hy wil wees, dan moet ons ook leer om minder gejaagd deur die lewe te gaan.

Maar hoe doen ons dit?

Hier is ses eenvoudige dinge wat jy kan probeer om jou te help om in die gewoonte te kom om nie so deur die lewe te jaag nie.

Meeste mense se dag begin al met soveel spoed dat dit geen wonder is die res van hulle dag is ook ‘n gejaag nie.

Daar word nie verniet gesê dat dit belangrik is hoe jy jou dag begin nie, want hoe jy dit begin, bepaal gewoonlik ook hoe jy dit verder benader.

Kom dus in die gewoonte om jou dag stadiger te begin.

Staan bietjie vroeër op, sodat jy nie hoef te jaag om klaar te maak vir die dag nie.

As jy kan, spandeer die eerste stukkie van jou dag in stilte. Lees jou Bybel en gesels met die Here oor jou dag en oor alles wat in jou hart aangaan.

En los vir eers jou foon uit. Daar is gewoonlik niks op sosiale media, in jou e-posse of Whatsapp-boodskappe wat so belangrik is, dat jy dadelik daarvan moet weet nie.

Daar word gesê dat alle mense 24 uur per dag kry. Daarom, redeneer sommige kenners, is dit moontlik vir alle mense om sommer baie in ‘n dag gedoen te kry. Dis nou as jy jou tyd reg bestuur, sê hulle.

Maar dis nie net die tyd wat ons het wat bepaal hoeveel ons kan doen nie, ‘n mens se energie speel ook ‘n belangrike rol.

As jy te veel hooi op jou vurk het, gaan baie dinge, onder andere jou energie, daaronder ly.

Daarom is dit belangrik om te onthou dat jy nie vir alles hoef ‘ja’ te sê nie.

Onthou ook dat elke ‘ja’ vir een ding, ‘n ‘nee’ vir iets anders is. So maak seker jy sê ‘ja’ vir dié dinge wat regtig vir jou belangrik is.

Soms gaan jou ‘nee’ mense ongelukkig maak, maar moenie dat dit jou ontstel nie. Jesus het self elke nou en dan ‘n stil plek opgesoek, waar Hy kon rus en bid. Hy het nie toegelaat dat die vewagtinge van mense Hom voorsê nie, so moet jy dit ook nie doen nie.

Baie van ons het in die gewoonte verval om ons kos so vinnig moontlik te eet. Maar om vinnig te eet is nie goed vir jou gesondheid nie.

Maak dus ‘n punt daarvan om jou maaltye stadig te eet. Sit jou mes en vurk tussen elke hap neer en kou jou kos rustig. Proe wat jy eet. Dit gaan nie net jou vertering verbeter nie, maar jou ook help om jou kos regtig te geniet.

O ja, en moenie vergeet om voor jy eet vir die Here dankie te sê vir jou kos nie! Dit sal jou sommer al klaar help om ‘n bietjie rustiger te wees terwyl jy eet.

Hoe gereeld spandeer jy tyd in die natuur?

Meeste van ons spandeer die meeste van ons tyd in die huis, op kantoor, of in die motor. En, as ons wel buitekant is, is ons aandag gewoonlik by ons selfone in plaas van by wat rondom ons aangaan.

Maar tyd in die natuur is ‘n goeie manier om ons te help om tot rus te kom. Dit herinner ons ook daaraan dat ons ‘n wonderlike God dien, wat al die mooi wat ons sien, geskep het.

So, probeer om gereeld tyd in die natuur te spandeer.

Jy kan ‘n entjie gaan stap. Of jy kan sommer net in ‘n rustige hoekie in jou tuin sit en na die voëls luister.

Kyk vir die wolke. Voel die sonskyn. Ruik die geur van die blomme.

Vergeet ‘n bietjie van jou selfoon en laat die Here toe om jou nuwe krag te gee terwyl jy tyd in die mooi van die natuur spandeer.

Het jy geweet daar is nie regtig so iets soos ‘multi-tasking’ nie? ‘n Mens kan nie regtig twee of meer dinge gelyktydig doen nie. Al wat jy eintlik besig is om te doen, is om vinnig van een taak na ‘n ander oor te skakel.

In die proses is jou aandag nie regtig by dit wat jy doen nie, want jy dink al klaar aan wat jy volgende moet doen.

Dit veroorsaak dat ‘n mens heeltyd gejaag voel. Dit kan ook veroorsaak dat jy oorweldig voel.

Om dit teen te werk, is dit ‘n goeie idee om net een ding op ‘n slag te doen. Gee aandag aan dit wat jy besig is om te doen. Moenie jou taak afjaag sodat jy by die volgende een kan uitkom nie. Werk stadig en presies. Op die manier maak jy ook nie foute, wat jy dan agterna weer moet regmaak nie.

As jy bietjie op die internet rondsnuffel, sal jy vinnig agterkom daar is verskillende dinge wat mense deesdae doen om hulle lewens te vereenvoudig.

Sommige beoefen minimalisme deur van hulle onnodige besittings ontslae te raak.

Ander probeer so ver as moontlik die verpligtinge wat hulle het, minder maak sodat hulle rustiger kan leef.

Nog ander vereenvoudig hulle daaglikse roetines.

Dink ‘n bietjie oor jou lewe en kyk waar jy aanpassings kan maak sodat jy eenvoudiger kan leef.

Hoe eenvoudiger jou lewe, hoe minder gejaag gaan daar wees.

Ek het jou nou ses idees gegee wat jy kan probeer as jy graag ‘n rustiger lewe wil leef. Kies een van dié idees en begin dit sommer vandag nog in jou lewe toepas.

Onthou, om ‘stadiger’ of rustiger te leef beteken nie jy is lui nie. Dit is eerder ‘n doelbewuste manier om voluit en met betekenis te leef, net soos Jesus gedoen het.

KYK OOK: LEEF ‘N RUSTIGER LEWE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *