SPANDEER TYD MET GOD IN 2025

As jy soos ek is, dan het jy iewers aan die einde van 2024 ‘n bietjie teruggekyk na hoe jou jaar verloop het en watter dinge daar is wat jy in die volgende jaar aan wil werk.

Baie mense begin ‘n nuwe jaar met die doelwit om meer tyd met God te spandeer.

As dit ook een van jou doelwitte is en jy het hulp daarmee nodig, dan gaan die wenke in hierdie artikel jou help. Dit gaan veral help as jy nog nooit voorheen regtig stiltetyd gehou het nie en nie weet hoe om te begin nie. So, kom ons gesels daaroor!

spandeer tyd met God

Dis maklik om, wanneer jy besluit jy wil tyd met God spandeer, jou voor te neem om dit sommer vir ‘n halfuur of ‘n uur lank elke dag te doen.

Maar as jy nog nooit voorheen stiltetyd gehou het nie, dan kan jy maklik moed opgee as jy agterkom jy sukkel om dit vir ‘n uur lank elke dag te doen.

Begin dus met net vyf minute of tien minute op dag.

Die doel is om op ‘n gereelde basis tyd met God te spandeer.

Soos jy in die gewoonte kom, kan jy nog vyf minute en later nog vyf minute byvoeg tot jy soveel tyd met God spandeer, soos jy graag wil.

Ek het netnou genoem die doel van stiltetyd is om gereeld tyd met die Here te spandeer.

Daarom is dit ‘n goeie idee om, van die begin af, ‘n tyd te kies wat jy elke dag mee sal kan volhou.

Vroegoggend, voor die gesin wakker is, is dalk ‘n tyd wat vir jou werk.

Of dalk is in die aand, voor jy gaan slaap, ‘n beter tyd vir jou.

Onthou, almal van ons is uniek en ‘n tyd wat vir my werk is nie noodwendig een wat vir jou gaan werk nie.

Maak net seker jy kies ‘n tyd waar jy wakker is en regtig jou aandag kan gee aan dit wat jy doen.

Die plek waar jy elke dag jou stiltetyd hou, is ook belangrik.

Kies ‘n rustige hoekie in jou huis waar jy alles wat jy gedurende jou stiltetyd gaan gebruik, kan hou.

Of kry vir jou ‘n houer waarin jy hierdie hulpmiddele kan bêre. Neem dan dié houer saam met jou en gaan sit op die stoep of in die tuin wanneer jy tyd met God wil spandeer.

Jy kan enige plek kies om tyd met God te spandeer. Onthou net dat dit ‘n plek moet wees waar dit stil en rustig is en waar niemand jou aanhoudend gaan pla nie.

Daar is sommer heelwat dinge wat jy kan gebruik wanneer jy stiltetyd hou.

Jou Bybel is natuurlik die heel belangrikste item wat jy gaan nodig hê.

Dan kan jy ook ‘n joernaal gebruik. Daarin kan jy neerskryf wat God vir jou sê, of vrae wat jy het. Jy kan ook, as jou gedagtes geneig is om te dwaal wanneer jy bid, jou gebede in jou joernaal neerskryf.

Dan is ‘n Bybelleesplan ook ‘n goeie idee. Wanneer jy ‘n leesplan gebruik, weet jy altyd waar jy vir die dag moet lees.

Jy het nou alles wat nodig is bymekaar. Maar wat nou? Wat doen jy tydens jou stiltetyd? Hier is ‘n eenvoudige plan, wat net vier stappe het, wat jy kan gebruik.

In Johannes 15:5 sê Jesus vir ons dat ons sonder Hom niks kan doen nie.

Dis ook waar van ons stiltetyd. Ons het Hom nodig om ons te help om te bid, die Bybel te verstaan, Hom beter te leer ken, ensovoorts.

Begin dus altyd jou tyd met God met ‘n gebed.

Dit hoef nie ‘n lang of ingewikkelde gebed te wees nie. Jy kan eenvoudig sê: “Here, ek is hier. Help my om U beter te leer ken.”

Na jy gebid het, is dit tyd om ‘n gedeelte uit die Bybel te lees.

Kies ’n kort gedeelte om op te fokus. Jy kan byvoorbeeld ‘n Psalm of ‘n gedeelte uit die Evangelie lees.

Moenie probeer om te veel op een slag te lees nie.

‘n Mens kan maklik dinge wat die Here vir jou in ‘n gedeelte wil wys misloop as jy fokus op hoeveel hoofstukke jy op ‘n dag gelees kan kry.

Wanneer iets in jou gedeelte vir die dag vir jou uitstaan, skryf dit in jou joernaal neer.

Skryf neer wat jy daaroor dink en wat jy voel die Here vir jou daardeur sê.

Jy kan ook vir jouself vrae oor die teks vra en die antwoorde daarop in jou joernaal neerskryf.

Dink aan vra soos:

Wat leer hierdie gedeelte my oor God?

Wat leer dit my oor mense?

Hoe kan ek dit wat ek geleer het, in my lewe toepas?

Jy het met gebed begin en jy gaan ook daarmee eindig.

Praat met die Here oor dit wat jy uit Sy Woord geleer het. As jy vrae oor die gedeelte het, vra daardie vrae vir Hom.

Praat ook met Hom oor jou vrese, jou drome, jou behoeftes, en die dinge waarmee jy sukkel.

En onthou ook om vir andere, van wie se behoeftes jy weet, te bid.

Eindig jou gebed deur vir die Here dankie te sê vir wie Hy is en vir alles wat Hy in jou lewe doen en vir jou gee.

Hierdie is ‘n eenvoudige plan, maar daar is heelwat ander dinge wat jy ook in jou stiltetyd kan doen. As jy nog meer oor stiltetyd wil weet, kan jy gerus kyk na die stiltetyd-gids met die naam, By Jesus Se Voete, wat in ons aanlyn-winkel beskikbaar is.

Wanneer jy besluit dat jy in die gewoonte wil kom om elke dag tyd met God te spandeer, is daar ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou.

Dis belangrik om realisties te wees oor die lewensseisoen waarin jy tans is. ‘n Nuwe ma gaan byvoorbeeld meer sukkel om ‘n stiltetyd-gewoonte aan te leer as iemand wat afgetree is.

En dis, soos die Engelse sal sê, ‘okay’. God verstaan elke seisoen waarin ons is. Onthou dat Hy na jou hart kyk en sien jy is bereid om tyd met Hom te spandeer, selfs al kan jy dit op dié stadium nie vir baie lank doen nie.

Daar sal dae wees wat die lewe gebeur en jy nie by jou stiltetyd uitkom nie. En dis reg so!

Moenie moed opgee nie.

God is nie kwaad vir jou nie – Hy verlang net na jou teenwoordigheid.

Stiltetyd is eenvoudig: Lees die Woord, bid, en luister na wat God sê.

Hoe meer dinge jy in jou stiltetyd probeer inpas, hoe makliker word dit om op te gee as jy nie by alles uitkom nie.

As jy graag iets wil doen soos om na geestelike musiek te luister of na ‘n geestelike video te kyk, is dit ook reg. Moet net nie te veel aktiwiteite op ‘n dag probeer doen nie.

Hou dinge eenvoudig.

Om tyd met God te spandeer is nie iets wat jy doen net sodat jy dit van jou doen-lysie kan afmerk nie. Dis deel van jou verhouding met God en daarom iets wat jy kan en mag geniet.

So, wees net jouself en praat met die Here soos jy met ‘n vriend sal praat. Verwag ook dat Hy met jou gaan praat. Vra Hom om jou te help om Sy stem duidelik te hoor en te verstaan wat Hy vir jou wil sê.

Vra Hom ook om jou te help om graag tyd met Hom te wíl spandeer en om dit ten volle te geniet.

Om tyd met God te spandeer ‘n manier hoe ons aan ons verhouding met Hom, kan werk.

Dis so eenvoudig soos om jou Bybel te lees, te bid en te luister wat God vir jou uit die gedeelte wat jy gelees het, of deur Sy Gees, sê.

Mag jy hierdie jaar die gewoonte aanleer om gereeld tyd met die Here te spandeer sodat julle saam aan julle verhouding kan bou.