Daar is ‘n geveg wat heeltyd heers in elke gelowige. Dit is die geveg tussen die gees en die vlees. En dit is jou keuse wie daardie geveg wen!
In die donker soek ek na my foon.
Dit is amper tyd om op te staan, maar ek sou veel eerder nog ‘n bietjie in die bed wou bly. Die komberse is só snoesig!
Maar my foon sê dit is nou 5:00, dus glip ek saggies uit die bed sodat ek nie my man wakker maak nie.
Op pad kombuis toe om te gaan koffie maak voor ek tyd met die Here spandeer, het ek amper ‘n huppel in my stap.
Want sien, my gees het weer die geveg gewen!
DIE GEVEG TUSSEN DIE GEES EN DIE VLEES.
Meeste oggende is daar ‘n geveg tussen my gees en my vlees.
Dit is vir my heerlik om tyd saam met die Here te spandeer (dis my gees). Maar ek is nie altyd lus daarvoor om vroeg op te staan sodat ek dit kan doen nie (dis my vlees wat kop uitsteek).
Dalk sit jy met dieselfde probleem.
Jy wil graag die regte ding doen, maar daar is heeltyd hierdie stemmetjie wat jou anders probeer oortuig.
Die Bybel leer ons dat daar ‘n geveg tussen ons gees en ons vlees gaan wees tot ons die dag doodgaan, of Jesus terugkom, watter een ookal eerste gebeur.
Galasiërs 5:17 sê ons vlees en gees staan lynreg teenoor mekaar. Omdat God se Gees in ons gees werk, begeer ons gees om God se wil te doen. Ongelukkig is daar nog baie van ons ou manier van doen in ons teenwoordig.
Voor ons wedergeboorte, het ons gemaak net soos ons wou.
Maar noudat ons kinders van God is, het ons nuwe begeertes en ‘n nuwe manier van leef. Nou het ons ‘n keuse. Ons kan kies om ons gees te volg en doen wat God van ons vra. Of ons kan kies om maar aan te hou doen wat ons nog altyd gedoen het.
DIE EEN WAT JY KOS GEE.
Dit herinner my aan die Indiaan wat, na sy bekering, met hierdie probleem geworstel het.
Hy wou gehoorsaam wees aan God, maar het telkens bly doen wat hy gedoen het voor hy tot bekering gekom het.
Dit het hom ontstel, en hy besluit toe om ‘n sendeling te gaan sien om te kyk of hý hom nie kan help nie.
By die sendeling gekom, verduidelik hy sy probleem: “Ek voel asof daar twee honde in my is – ‘n swarte en ‘n witte. Die wit hond is ‘n goeie hond, maar die swart hond is sleg. Hierdie twee honde is die hele tyd besig om met mekaar te baklei.”
“Watter een wen dan die geveg?” vra die sendeling.
Die man het ‘n rukkie gedink en antwoord toe, “Die hond wat ek kos gee, is die een wat wen. Die ander een verloor omdat ek hom uithonger.”
Daar kan net een wenner wees in die geveg tussen ons gees en ons vlees.
Ons kan kies om God se Gees te volg en doen wat Hy in ons gees vir ons sê om te doen. Of ons kan kies om ons vlees te volg en bly doen wat ons gedoen het voor ons Jesus as Verlosser aangeneem het.
NIE IN EIE KRAG NIE.
Gelukkig hoef ons nie die geveg op ons eie te veg nie.
God het Sy Gees vir ons gegee om ons te help.
In Filippense 2:13 staan daar: “…want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.”
Onthou dit wanneer jy volgende keer sukkel om te kies om jou gees te volg. Onthou dat jy ‘n Vriend het wat jou wil help.
Hy sal jou help om gewillig te wees om die regte ding te doen. En dan sal Hy jou ook in staat stel om dit te doen.
Hy sal jou help om die geveg te wen wanneer jy kies om Sy hulp te aanvaar en Hom te vertrou.
Jy staan elke dag voor ‘n keuse.
Gaan jy die wit hond of die swart hond kos gee?
Gaan jy jou gees of jou vlees volg?
Die keuse is joune.
LEES OOK: MET DIE HULP VAN DIE HEILIGE GEES