Jesus het klaar die geveg geveg, en as oorwinnaar uit die stryd getree. Dit maak nie saak wat oor ons pad kom nie, deur geloof in Hom is ons meer as oorwinnaars.

My man is baie lief vir die Rocky flieks. Hy het hulle almal op DVD, en elke nou en gaan hy op ‘n Rocky-kyk-fees en kyk die hele spulletjie deur.
Ek het dit ook al ‘n paar keer saam met hom gekyk. Dit tref my elke keer hoe voos die arme Rocky geslaan word, net om aan die einde as wenner uit die stryd te tree.
Iemand gebruik nou die dag die beeld van ‘n bokser om te verduidelik wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het.
Die bokser, Rocky, verduur een hou na die ander. Sy oë is naderhand toegeswel, sy neus gebreek, en dalk het ‘n rib of twee ook al in die slag gebly. Maar hy bly staan en deel self houe uit. En, as dit gebeur dat hy platgeslaan word, sukkel hy totdat hy weer op sy voete is. Dan verduur hy nog ‘n paar rondtes van houe uitdeel en houe ontvang.
Nes jy dink hierdie geveg gaan nooit einde kry nie, kry Rocky skielik van iewers af nog ‘n laaste bietjie krag. Hy slaan vir ou Apollo Creed dat die bloed en sweet so spat, en Apollo gaan grond toe. En. Bly. Lê. Rocky is die wenner van die geveg, die wêreldkampioen en daarvoor kry hy sommer ‘n groot komp geld.
MEER AS ‘N OORWINAAR.
Stel jou nou voor dat die aankondiger met een van daardie reuse tjeks, wat ‘n mens altyd in die flieks en op TV sien, na Rocky toe loop om dit aan hom te oorhandig.
Maar voor hy dit vir Rocky kan gee, spring Adrian voor hom in, gryp die tjek, en sit dadelik af bank toe om dit te gaan wissel sodat sy kan gaan inkopies doen.
Rocky was die oorwinnaar in die stryd, maar Adrian is meer as oorwinnaar, want sy kry die geld wat hy gewen het, sonder om die geveg te moes veg!
JESUS, DIE OORWINNAAR.
Dít is wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het.
Hy het die stryd gestry, die geveg geveg, en as oorwinnaar uit die stryd getree.
Hoewel Hy nooit ‘n elke sonde gedoen het nie, neem Hy ons sondes op Hom en betaal die prys daarvoor.
Hy sterf in ons plek.
Na drie dae staan Hy as oorwinnaar op uit die dood.
Hy het die vyand, die duiwel, oorwin. Nooit hoef ons weer vir hom bang te wees of na sy pype te dans nie.
Jesus het die geveg geveg, en as oorwinnaar uit die stryd getree, maar deur geloof in Hom is ons meer as oorwinnaars.

Ons is soos Adrian wat die oorwinaar se tjek kan gaan wissel sonder dat ons nodig gehad het om in die kryt voosgeslaan te word om dit te wen.
Jesus het alles gedoen wat nodig was, en nou gee Hy Sy oorwinning vir ons as geskenk. Ons moet dit net in geloof by Hom neem.
Hierdie oorwinning sluit in:
‘n intieme verhouding met God;
die inwoning van die Heilige Gees;
‘n liefde wat niemand ooit van ons kan wegneem nie;
Sy leiding en versorging;
‘n plek in die hemel.
LEES OOK: WAT IS JESUS IN JOU LEWE?
JY IS MEER AS ‘N OORWINNAAR.
Jý is vandag, in Christus, meer as ‘n oorwinnaar.
Dit maak nie saak wat die vyand jou kant toe gooi nie, Jesus het reeds oorwin. Deur geloof in Hom kan jy ook nou as ‘n oorwinnaar uit die stryd tree.
In 1 Johannes 5:4 leer ons dat ons die oorwinning oor die wêreld behaal deur ons geloof. En in Openbaring 12:11 leer ons dat die oorwinning oor die vyand behaal word danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan ons getuig het.
Die Lam, Jesus, het reeds die oorwinning behaal. Ons geloof in Hom maak ons meer as oorwinnaars. En omdat ons in hierdie oorwinning leef, kan ons nie anders as om te getuig van wie Hy is en wat Hy alles vir ons gedoen het nie.
My liewe vriend/in, Jesus het die geveg geveg, en die oorwinning behaal, sodat jy deur geloof in Hom, elke keer as oorwinnaar uit die stryd kan tree.
Jy is meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat jou liefhet!