God se krag kom tot volle werking wanneer ons op ons swakste is. Ons kan niks sonder Hom doen nie, maar is tot alles in staat wanneer Hy ons krag gee
Die storie word vertel van ‘n seun wat in ‘n ongeluk sy linkerarm verloor het. Aanvanklik het dit maar moeilik gegaan om so met een arm oor die weg te kom, maar met verloop van tyd het die kind dit al makliker reggekry. Op ‘n dag besluit hy dat hy weer kans sien daarvoor om aan sport deel te neey. Hy besluit dat hy judo-lesse wil gaan neem.
Hy begin klasloop by ‘n ou Japanese man, wat hom sommer met die intrapslag ‘n ingewikkelde beweging leer. En dit is toe ook waar dit bly. Vir ‘n hele drie maande is hierdie beweging al wat die seun oefen. Op ‘n dag, toe hy nou al redelik moeg is daarvoor om hierdie beweging oor en oor te oefen, praat hy met sy sensei daaroor. “Sensei, is ek nie veronderstel om darem nou ander bewegings ook te leer nie?” Die sensei antwoord: “Nee, want hierdie beweging is al wat jy ooit gaan nodig kry!”
DIE KOMPETSIE.
Die dag breek aan waarop die sensei die seun laat deelneem aan ‘n judo-toernooi. Sy eerste twee opponente verslaan hy sommer in ‘n japtrap. Opponente drie en vier is nie so maklik om te klop nie, maar met bietjie moeite kry hy dit tog reg. Hy dring deur na die eindrondte. Die laaste ou teen wie hy te staan kom, is ‘n groot seun met bultende spiere. Almal in die gehoor snak behoorlik na hulle asem, want hulle sien al hoe hierdie groot ou die kleiner een heeltemal gaan vermorsel. En dan gebeur die ondenkbare – die seun met die een arm wen die geveg en daarmee ook die hele toernooi!
Op pad huistoe kan die seun nie uitgepraat raak oor sy ondervinding nie: “Sensei, dit is die wonderlikste ding wat nog ooit met my gebeur het! Maar daar is net een ding wat ek nie so mooi verstaan nie. Hoe is dit moontlik dat ek met net een beweging die toernooi kon wen?” “Jy het jou oorwinning aan twee dinge te danke,” antwoord die sensei. “Nommer een: jy het die heel moeilikste gooi in judo nou amper bemeester. Nommer twee: die enigste verdediging vir daardie gooi, is dat jou opponent jou aan jou linkerarm gryp!”
GOD SE KRAG.
Ek en jy is in dieselfde bootjie as die seun.
Dit lyk asof ons een of ander swakheid het, en dat dit ons vir die res van ons lewens gaan pootjie.
Maar, as ons daardie swakheid vir God gee, verander alles.
Want dit wat vir ons na ons grootste swakheid lyk, is in Christus ons sterkste punt, want God se krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is (2 Korinthiërs 12:9)!
LEES OOK: GLO IN GOD